RUGBYNUUS - Evergreens het Heidelberg en sy ondersteuners se harte gistermiddag (Saterdag 11 Oktober) op Outeniquapark gebreek met 'n strafskop laat in die tweede helfte om die eindstryd van die Superliga se Top 8-kompetisie met 20 -19 te wen.
Met dié oorwinning het Evergreens Heidelberg se derde probeerslag in drie jaar om die SWD-rugbyunie se Superliga te wen, gefnuik.
Maar dit was so hittete of Heidelberg het die stryd gewen. Hoewel die telling wipplank gery het, het Heidelberg in die tweede helfte die pas aangegee en lank voorgeloop totdat Leegan Moos, losskakel van Evergreens, met 'n strafskop die wenpunte kon aanteken.
Self die getrouste Evergreens-ondersteuners sal erken dat hulle effe gelukkig was om dié taai kragmeting met 'n enkele punt te wen. Hoewel Evergreens die besoekers in die skrum laat les op sê het, het Evergreens talle foute begaan, soms gesukkel met hul lynstane en boonop ook 'n geelkaart gekry.
Maar die Groen Masjien het koelkop gebly, meedoënloos aangeval en die telling van 16 - 7 na 20 - 19 laat krimp om die gesogte Superliga-beker te wen.
Francois Cummings van Evergreens storm deur die verdediging met die bal met Heidelberg se Lyndon Hartnick wat gereed maak om hom voor te keer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’