MOSSELBAAI NUUS - Op die vooraand van die SWD Premierliga se top 8-wedstryde heers daar 'n opgewondenheid onder rugbygeesdriftiges in die Suid-Kaap.
Dit gons behoorlik op sosiale media waar rugbyondersteuners van die verskillende klubs hul menings lug. Die vraag op almal se lippe: Watter span gaan hierdie jaar die trofee omhoog hou?
Gaan dit weer tussen Heidelberg en die Brakkies wees? Die laaste twee jaar se finale is tussen dié twee beslis.
In 2023 het Groot-Brakrivier en Heidelberg 'n opskudding veroorsaak toe hulle die twee gunstelingspanne, Evergreens en Crusaders, in die semifinale uitgeskakel het.
Boonop het hierdie wedstryde op die verloorspanne se tuisvelde afgekom.
In verlede jaar se semifinale was dit die Brakkies op hul tuisveld teen Blanco, terwyl Heidelberg ook op húl tuisveld kragte teen Bridgton gemeet het. Die finaal het ná ekstra speeltyd gelykop geëindig. Gaan dit weer hierdie jaar die geval wees?
Mic Fin Barbarians en Progress het vir die laaste paar jaar wipplank gery, maar is tans op dreef en moenie afgeskryf word nie.
Progress, wat onder die boonste vier spanne op die telbord is, en Babaas in die vyfde posisie, is ook aanspraakmakers om die uitspeelronde te haal. Maklik gaan dit vir geeneen wees nie.
Dié spanne speel Saterdag 19 Julie teen mekaar:
• Evergreens en Groot-Brakrivier
• Heidelberg en Mic Fin Barbarians
• Progress en Crusaders
• Bridgton en Blanco.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’