RUGBY NUUS - 'n Taai stryd woed oor die presidentskap van SWD-rugby. Twee kandidate, Ben Brinkhuis en Kevin van Wyk is genomineer vir die pos wat vakant is.
Die vorige president, Hennie Baartman is vroeër vanjaar op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) verkies.
Brinkhuis neem sedert Mei vanjaar waar in die pos. Die nuwe permanente president sal Saterdag 26 November by die George-munisipaliteit se konferensiesaal verkies word wanneer die unie se 29ste algemene jaarvergadering plaasvind. Die vergadering begin om 10:00.
Benewens die president sal ander vakante poste ook deur verkiesings gevul word. Dit is die senior visepresident, die junior visepresident, drie superliga verteenwoordigers en drie eersteliga verteenwoordigers.
Die twee streekvoorsitters is reeds gekies sowel as die voorsitter van die skeidsregtersvereniging en die voorsitters van die hoër- en laerskole afdelings.
Veda Manie, bestuurder van SWD-rugby, het by navraag gesê die permanente president en ook die uitvoerende bestuur word vir vier jaar gekies. Elkeen van die 63 geaffilieerde klubs is stemgeregtig.
Beide Brinkhuis en Van Wyk het Dinsdag 15 November bevestig dat hulle hulself verkiesbaar gestel het. Beide is baie ervare rugbyadministrateurs.
Brinkhuis is reeds van 2006 betrokke by SWD-rugby. Hy het in 'n stadium voorsitter van die kusstreek geword en in 2010 senior visepresident van SWD-rugby.
Van Wyk is reeds van 2000 betrokke by rugby en is op die oomblik die voorsitter van Crusaders.
Brinkhuis het gesê die afgelope 12 jaar is hy senior visepresident toe Baartman die unie gestabiliseer en vorentoe gevat het. "Daar is nog leemtes wat gevul kan word om die unie na 'n nog hoër vlak te neem." Dit is sy motivering om hom verkiesbaar te stel.
Van Wyk het gesê hy is reeds in 2007 genader om vir die presidentskap te staan, maar hy het destyds opsygestaan sodat Baartman president kon word.
Volgens Van Wyk het SWD-rugby baie potensiaal. "Ons kan een van die beste spanne in die land word."
Hy glo SWD-rugby het meer bedui-dende rigting nodig. "Ek glo ek is een wat so 'n rigting kan skep. Ek wil my gewig by SWD-rugby ingooi."
Kevin van Wyk
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessqua, Karoo nuus'