SUID-KAAP SPORTNUUS - Die SWD Arende kan effe vergoed vir hul gesukkel in vanjaar se SuperSport-uitdaagreeks deur die Sharks-vyftiental Sondag in Kaapstad in hul laaste wedstryd te klop.
Die Arende lê tans op die sesde plek op die puntelys met 11 punte met die Sharks vierde op 16 punte. Streng gesproke behoort die Natallers dié kragmeting te wen. En ná die Arende se onoortuigende oorwinning met 18-17 oor die Grens-Bulldogs verlede Vrydagaand op 'n natterige Outeniquapark, twyfel mense sterk of hulle die pyp in die Kaap gaan rook.
Akkuraatheid, slim besluite, rotsvaste verdediging en goeie dissipline vir 80 minute kan die Arende help om die moeilike hekkie oor te steek en sy goor seisoen tot dusver te stuit.
Klubrugby
In die Mic Fin Premierliga wag daar self 'n paar taai tweestryde. Heidelberg pronk nadat hy Evergreens op sy tuisveld gelooi het. Nou pak hy Groot-Brakrivier wat met 'n goeie oorwinning oor Bridgton self aan die opmars is op die puntelys. Teen dié tyd weet die spanne egter op Heidelberg word jy maklik begrawe.
Blanco kan hom op sy tuisveld staal vir 'n verwoede aanslag van 'n "gewonde" Evergreens en in Rosemoor wag 'n liplekker kragmeting tussen Progress en George.
Barbarians kom teen Bridgton te staan, Crusaders teen Maori's en Jaguars teen Silver Stars.
Die Arende het die Grens-Bulldogs verlede Vrydagaand in 'n SuperSport-kragmeting op Outeniquapark naelskraap met 18-17 geklop. Hier klop Francois Pieters (senter) twee verdedigers van die Grens-Bulldogs. Foto: Johan Faasen
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'