RUGBY NUUS - Mens kan Riversdal Blues se onder-steuners, spelers en afrigters seker nie verkwalik as hulle gal braak oor 'n skeidsregterbeslissing nie, veral nie oor verlede Saterdag s'n in George waar die span vir die tweede agtereenvolgende week 'n rooikaart én 'n strafdrie gekry het nie.
George het met 'n goeie vertoning dié kragmeting met 43 - 34 gewen, maar daai pasella strafdrie vlei die tuisspan.
'n Blues-speler het 'n bal instinktief afgeklap, wat natuurlik minstens 'n geelkaart werd is.
Hoewel George op die aanval was, was dit geen uitgemaakte saak dat hulle sou gaan druk het nie, veral nie met die Blues se kruisverdediging goed in plek nie.
Die skeidsregter het anders besluit, die verkeerde Blues-speler met 'n rooikaart afgestuur, en 'n strafdrie toegeken. Praat nou van 'n tragikomiese vertoning. Dié deurmekaarspul het meer as net die spelers laat kopkrap.
Mens begin hardop wonder of neutrale skeidsregters buite Hessequa en die Tuinroete nie die antwoord is nie...
Blues se afrigter, Rhyno Jacobs, sê die span is definitief op pad na waar hulle kan en wil wees, maar dis of die spelers net op kritieke tye nie al die regte knoppies druk nie. "Met ons algemene spel het ons goed opgeweeg teen George en ons verdediging was ook op standaard.
"Tog het George beter by die omstandig-hede aangepas en by hul wedstrydplan gehou om die wedstryd vas te maak en met hul swaarder pak voorspelers te speel. Ons het gefouteer deur die bal nie wyer uit te vat nie, want as ons aan die hardloop geraak het, moes die tuisspan keer vir al wat dit werd was."
Die Blues het van sy beseerde spelers vir Saterdag se kragmeting teen Groot-Brak terug in die span. Hier kom 'n grote veral noudat die besoekers hul derby teen Barbarians gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’