Gallery
SONSKYNVALLEI NUUS EN GALERY - Sonskynvallei se Sunshine United-rugbyklub is ná die afgelope naweek op United Park nou al vir 12 agtereenvolgende wedstryde onoorwonne.
United was die gasheer vir hul kragmeting teen die Black Dolphins van Gouritsmond - met die tuisveldvoordeel het hulle dan ook as wenners uit dié stryd getree.
Die tuisspan het tydens die eerste helfte drie keer die doellyn oorgesteek en kon een doelskop suksesvol deur die pale stuur.
Die Dolphins het egter, ten spyte van goeie fasebou en sterk aanvallende spel, gesukkel om op die telbord te kom; hul enigste punte vir hierdie helfte was ’n suksesvolle strafskop. Die rustydtelling was 17 - 3.
Met die aanvang van die tweede helfte het albei spanne meer aggressief en klinies gespeel en elk het drie drieë gedruk.
Sunshine United se skrum was ’n vertoning van brute krag en daar was dwarsdeur die wedstryd geen teken dat die voorspelers hul insette sou verminder nie. Teen die eindfluitjie is die spanne met ’n telling van 36 - 22 uitmekaar.
United kom op 8 Augustus weer op hul tuisveld teen die Herbertsdale Warriors te staan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’