MOSSELBAAI NUUS - Die Barbarians se ondersteuners moes verlede Saterdag op ’n volgepakte D’Almeidapark toekyk hoe ’n begeesterde Heidelberg-span die Barbarians van agter af kom klop.
Heidelberg, wat hierdie kragmeting met 33 - 26 gewen het, is vir die laaste vier jaar nog onoorwonne teen die Barbarians op D’Almeidapark.
Hierdie kragmeting was uit die staanspoor gekenmerk deur goeie hardlooprugby aan beide kante. Reeds in die tweede minuut het Babaas se Jason Jonas (losskakel) met ’n dartellopie vanaf Heidelberg se kwartgebied sy pad oopgehardloop doellyn toe vir die eerste drie.
Dié is deur Dewanley van Rensburg (senter) verdoel - en D’Almeidapark het ontplof!
Die tuisspan (bekend vir hul goeie skrumwerk) het die besoekers ’n opdraandestryd gegee met die eerste paar skrums in die eerste helfte. In die 10de minuut het Heidelberg juis hul eerste strafskop afgestaan vir ’n oortreding in ’n vasteskrum reg voor hul pale - Van Rensburg het hierdie een ook oorgeklits.
Net hierna moes die tuisspan vanaf die afskop weer gaan druk het, maar hanteerfoute sowat 5 m van die besoekers se doellyn het hulle gekniehalter.
In die 20ste minuut het die besoekers oorgegaan vir hul eerste drie ná swak verdediging deur die tuisspan.
Babaas se Van Rensberg het hierna met ’n klassieke drie geantwoord toe hy met een van sy kenmerkende kronkellopies die besoekers se middelveld na lug laat gryp het.
Met die telling 20 - 7 in die guns van Babaas het dinge nog goed gelyk vir ’n moontlike oorwinning.
In die laaste minuut net voor rustyd word aan beide spanne egter ’n rooi kaart uitgedeel. Met 14 man aan ’n kant, wie sou as oorwinnaars van die veld afstap?
In die tweede helfte was dit weer die tuisspan wat eerste punte aangeteken het toe Van Rensburg sy derde strafskop deur die pale gejaag het.
Net toe dit lyk of ’n oorwinning wink, was dit Heidelberg wat in die laaste 20 minute in beheer van die wedstryd gestaan het. Hulle het vier keer agter Babaas se doellyn gaan kuier.
Met hierdie oorwinning het Heidelberg ’n duidelike boodskap aan die ander spanne gestuur - hulle word moelik gestuit. Die Barbarians sal daarenteen indringend aandag aan hul verdedigingslyne moet gee, asook hul fiksheid, indien hulle nog aanspraak wil maak om ’n plek in die top agt.
Met nog vyf wedstryde oor vir Babaas in die eerste ronde kan die pad na ’n plek in die top agt dalk steiler raak.
Die B- en C-span het onderskeidelik met 17 - 12 en 15 - 10 gewen.
Eerskomende Saterdag vind daar geen rugbywedstryde plaas nie. Wedstryde hervat weer op Saterdag, 7 Junie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’