Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - D’Almeidapark het verlede Saterdag uit sy nate gebars toe Sao Bras en Groot Brak Sekondêr se twee A-spanne kragte gemeet het in hulle tweede FNB Classic Clashes-wedstryd.
Sao Bras het hierdie aanskoulike kragmeting met 54 - 7 gewen.
Die tuisspan het vanaf die afskop die besoekers met goeie aanvallende spel onder groot druk geplaas. In die vierde minuut was dit die tuisspan wat eerste vir ’n vyfpunter oor die doellyn gegaan het.
Sao Bras het in die 12de minuut nog eenkeer agter die doellyn gaan kuier, terwyl die besoekers hul enigste drie van die wedstryd in die 30ste minuut gaan druk het.
In die tweede helfte het Sao Bras behoorlik die krane oopgedraai. In vergelyking met die eerste helfte was Sao Bras meer konstruktief en hul aanvallende spel, deur voor- en agterspelers, is in punte omskep. Hulle het die besoekers se doellyn nog agt keer oorgesteek.
Die hoofafrigter, Gilmer Johnson, sê hy is trots op die spelers. “Tot dusver het ons A-span vir die 2025-rugbyseisoen agt van 10 wedstryde gewen. Van die hoogtepunte was toe ons die Grow-toernooi gedurende die Maart/April-vakansie op Uitenhage gewen het.”
VIDEO: Sao Bras wen FNB Classic Clashes
Die afrigter vir Groot Brak en sporthoof by dié skool, Peter Smith, het Sao Bras vir ’n goed gereelde dag van wedstryde bedank. “Ons het dit werklik geniet.” Hy sê hul spelers het deur die bank moedig geveg, maar Sao Bras was aan die einde net te sterk. Groot Brak bied volgende jaar op 30 Mei weer die geleentheid aan, sê Smith.
Tydens verlede jaar se FNB Classic Clashes het Groot Brak hul eerstespanafrigter, Marius Fourie, aan die dood afgestaan. Die speler van die wedstryd by dié geleentheid word dus nou onder sy naam vereer. Sao Bras se agtsteman, Kyle Dickson, het dié eer ontvang.
Ander uitslae:
• O. 14 Sao Bras wen 34 - 5
• O. 15 Sao Bras wen 15 - 3
• O. 16 Sao Bras wen 29 - 10
Netbal
• O. 15 Sao Bras wen 9 - 4
• O. 16 Sao Bras wen 9 - 4
• O. 18 gelykop 14 - 14
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’