MOSSELBAAI NUUS - Met die 2018 SWD rugbyseisoen wat eersdaags begin is klubs oraloor besig om hulle fiksheid op die sportveld op te skerp. Garden Route-rugbyklub is geen uitsondering.
Hoewel die klub reeds die afgelope vier weke besig is met fiksheid vir die kompetisie wat in Maart afskop, het die afrigter Elvhezo Fortuin en klub-ondervoorsitter Jacques Saayman dit goed gedink om die afgelope Saterdag, 27 Januarie 'n spesiale oefenkamp vir die spelers te hou. Die oefenkamp was bedoel om 'n kombinasie van pret en fiksheidsoefening in te sluit as deel van die program om die spelers gereed te kry vir die talle wedstryde wat op hul wag as deel van die kompetisie.
Spanbou is belangrik, en met die geskiedenis van die rugbyklub wat 'n hawe bied vir veral jong seuns wat op parool vanuit korrektiewe dienste in die gemeenskap teruggeplaas is, is dit belangrik om samehorigheid en eenheid te bevorder, en was dit een van die doelwitte van die oefenkamp.
Klein-Brakrivier se strand is gekies as die ideale plek vir die geleentheid. Met die heerlike reëntjie en koel weersomstandighede, was dit die mees geskikte toestand om die dag saam te kon spandeer.
Die bestuur bedank die borge wat die geleentheid moontlik gemaak het. Groot dank aan Ivan October vir die gratis vervoer en sleepwa waarin die spelers se besittings veilig bewaar kon word. "Dankie ook aan Morné van der Heyde van HQ Mosselbaai in Voorbaai. Dit is `n riem onder die hart om te kan ervaar dat besighede belangstel in die opheffing van jongmense," sê Venolea Fortuin, die klubvoorsitter.
Vol energie en lus vir die nuwe rugbyseisoen. Die Garden Route-rugbyklub het gedurende die naweek die reënweer trotseer vir hulle oefenkamp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'