MOSSELBAAI SPORTNUUS - Athletics was nog 'n top bruin rugbyklub van Mosselbaai uit die vorige era en het van die beste rugbyspelers opgelewer. Sedert hierdie klub se ontstaan in die vroeë 1930 het hulle gereeld hul stempel op die rugbyveld afgedwing. Vir die plaaslike rugbygeesdriftiges was die hoogtepunt van die rugbyseisoen, wanneer Athletics en Springroses kragte gemeet het.
Beide klubs was teen einde April 1951, volgens 'n opskrif in die Mossel Bay Advertiser - Unbeated Team Clash Today-Athletics vs Springroses - nog onoorwonne.
Die twee spanne wat op daardie dag Saterdag, 28 April 1951 volgens die Advertiser kragte gemeet het, het soos volg gelyk.
Athletics: (full back) D Pickering; (wings) F Abrahams, R Petersen, (midfield) H Petersen, G Josephs, (flyhalf) H Cupido, (scrumhalf) D Wentzel, (forwards) E Muller, S Jansen, S Theunissen, H Mathysen, E Baker, SN Levendal, N du Plessis, W Baker.
Springroses: (fullback) J Williams, (wings) J du Plessis, M Dixon, (midfield) A Olkers, H Lewis (captain), (flyhalf) E Windvogel, D Brown, J Strydom, A Mitchell, J Nelson, P Frans, J Brown, D Heunis, M Roman, C Scholtz.
Nie minder nie as 20 spelers van bogenoemde twee spanne het hul onderskeie klubs in daardie jaar gereeld op provinsiale vlak verteenwoordig. Athletics wat hierdie kragmeting met 6-3 verloor het, sou later in dieselfde jaar in 'n herontmoeting teen Springroses met eer uit die stryd tree.
Teen 1950 het Athletics heelwat talentvolle spelers gehad. In Henry Petersen (senter), Eddie Muller (haker), Henry Mathysen en Ernest Baker (slotte) het hierdie wedstryd 'n paar wenners gehad. Petersen het juis SWD in 1953 verteenwoordig gedurende die Rhodes-toernooi in Kaapstad en was een van die agterlyn se uitblinkers. Henry Mathysen se rugbyloopbaan is deur 'n meswond kortgeknip. Hierdie jong man wat in 1951 deur sy neef doodgesteek is, sou dit beslis ver met sy rugby gebring het. Dit was almal wat hom gesien speel het eens. Met sy lengte en gespierde lyf het hy 'n uitstekende aanvoeling vir die spel gehad.
* Lees weer in 'n volgende uitgawe of aanlyn Charles Theunissen se volgende geskiedkundige rugbyrubriek. Volgende keer gesels hy oor "Brilliant Rugby on Hill Ground".
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'