TUINROETE NUUS - 'n Rugbylegende in die SWD, Herman Harold Fortuin, is verlede Dinsdag, 29 November, oorlede. Die 82-jarige Fortuin het kanker gehad en het diep spore in die rugbywêreld getrap. In 'n stadium is selfs na hom as Mnr. Rugby SWD verwys.
Fortuin is op 22 Oktober 1940 in Pacaltsdorp gebore en was 'n leerling by Pacaltsdorp Primêr.
Sy oudste seun, Lionel Fortuin, het Maandag 5 Desember gesê sy pa was jare werksaam by Urban-skoenfabriek waar hy talle kere vir werkloses werk gekry het en hulle deel gemaak het van die rugbystruktuur van die plaaslike Evergreens-rugbyklub. Sy vrou, Bettie Fortuin, is reeds in 2006 na 'n kort siekbed oorlede.
Hy het 'n lang rugbyloopbaan gehad wat reeds op 17-jarige ouderdom in 1957 begin het toe hy Evergreens se derdespan gehaal het.
Op die jeugdige ouderdom van 24 jaar het hy betrokke geraak by die administrasie van die rugbyklub. Onder sy mentors was Hans Jansen en Hekkie Hendricks wat destyds die klub bestuur het. In 'n stadium in die 70's was hy voorsitter van Evergreens en in dié tyd het hy skouers geskuur met rugbylui soos dr. Danie Craven, Cuthbert Loriston en Abe Williams.
Lionel vertel dat sy pa vanaf 1975 'n leidende rol by die SWD-juniors gespeel het en as bestuurder vir die spanne opgetree het. Hy was ook spanbestuurder van die SWD-seniors.
"Na eenwording van rugby in Suid-Afrika in 1991 was hy ook instrumenteel in die vestiging van die nuwe Evergreens-rugbyklub soos ons dit vandag ken."
Lionel het sy pa as 'n mens-mens beskryf. "Hy het letterlik geleef vir sy geliefde sport, rugby. Hy sou alles vir enigiemand doen as hy agtergekom het dat jy sy passie deel. Hy het lewenslange vriendskappe gemaak deur sy sportkontak en oral waar mens kom, is ons altyd gevra, Ken jy Herman Fortuin van Pacaltsdorp, die rugbyman."
"Hy het altyd tyd gemaak vir mense as hulle oor sport of dan rugby wou praat. Hy wou net rugby dien en sy uitgangspunt was rugby verenig mense."
Lionel sê ook dat sy pa was 'n eenvoudige, nederige en opregte mens was. "Ek onthou menige kere moes ons op die grond slaap, want almal was welkom in ons huis. Hy het my leer lees. Toe ek in sub A (graad een) was in 1970 was die All Blacks in Suid-Afrika. Ek het koerante skool toe geneem en in die klas gelees en almal was verbaas dat ek vlot kon lees."
"My pa was werklik 'n merkwaardige man wat standvastig was en geglo het in waardes wat hy sy kinders geleer het. Een daarvan is dat jy 'n man van jou woord moet wees."
Sy pa sou die maand 'n toekenning van die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport as 'n Suid-Afrikaanse sportlegende ontvang het.
Fortuin word oorleef deur vier kinders. 'n Vyfde kind, Joswayne is reeds op 'n baie jong ouderdom oorlede. Hy laat ook 12 kleinkinders agter.
Die begrafnis vind Saterdag 10 Desember plaas. Die geleentheid by die huis is om 08:00 in Kortstraat en die diens om 09:00 in die Congregational Church, George.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'