MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai Klub, wat die rugbytoneel in SWD tussen 1981-90 oorheers het, was ook die lieflingkind by die bekende Top 8 wat jaarliks in Kaapstad afgespeel het.
Tydens hierdie kompetisie wat gedurende Paasnaweek gespeel is, het SARU se topklubs kragte gemeet.
Ten spyte daarvan dat die Mosselbaai Klub by 'n paar geleenthede net die halfeindstryd kon haal, het hulle tog die verbeelding van die toeskouers aangegryp met hul aanvallende spel.
Die volgende greep uit die Mossel Bay Advertiser getuig van hierdie klub se gewildheid by die destydse klubkampioenskappe in Kaapstad.
STAANDE APPLOUS VIR MOSSELBAAI
"Mosselbaai R.V.K wat by City Park, Kaapstad se Top 8 kompetisie as die onbekende faktor aangekom het, het gou die liefling van Cities se skare geword toehulle met hul avontuurlike hardloop en dodelike verdediging gewys het hoe die spel rugby in S.W.D. en veral Suid-Kaap gespeel word!
Hulle het sommer met die intrap hul stempel afgedruk toe hulle een van die groot gunstelinge, Villagers van Pniël-kampioenspan van Boland in 'n aanskoulike wedstryd geklop het."
Met hul deelname aan die Top 8 het die klub Mosselbaai gereeld op die landkaart geplaas na aanleiding van die baie mediadekking wat hulle gekry het.
Mosselbaai-rugbyvoetbalklub se Top 8-span gedurende die laat 1980's.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'