MOSSELBAAI RUGBY NUUS - Die Barbarians-rugbyklub se algemene jaarvergadering verlede week, is gekenmerk aan omstredenheid.
'n Mosie van wantroue in die bestuur, onderteken deur die spelers is gebring, maar is deur verteenwoordigers van die SWD Rugbyunie wat die vergadering bygewoon het verwerp aangesien dit nie aan vereistes voldoen het nie.
Sodanige mosie moet ook deur opbetaalde lede van die klub onderteken word. Die mosie moet ook deur 'n vasgestelde persentasie van die ledetal onderteken word om in aanmerking geneem te kan word.
Tydens die vergadering het die huidige voorsitter, Dawid Kamfer wat verlede jaar vir 'n termyn van twee jaar verkies is, bedank.
Die vergadering is deur verteenwoordigers van die SWD Rugbyunie, onder andere Rodney Volkwyn, portefeuljehouer - klubsake, bygewoon.
Die unie het ingetree as tydelike adminstrateur van die klub en die AJV is uitgestel na 'n volgende datum wat nog nie bekend is nie. Tydens die volgende vergadering, sal 'n nuwe bestuur na alle waarskynlikheid verkies word.
Die Mossel Bay Advertiser het navrae oor die stand van sake aan die SWD Rugbyunie se waarnemende hoof uitvoerende beampte, Vanessa Roelofse gerig. Sy het gesê dat sy nie by magte is om kommentaar te lewer nie en het die navraag verwys na Rodney Volkwyn, portefeuljehouer - klubsake. By navraag het Volkwyn per e-pos gesê dat die hoof uitvoerende beampte of die bestuurder - amateurrugby van die SWDRU kommentaar moet lewer.
Die unie se kantore het bevestig dat Roelofse tans beide posisies beklee. Die Advertiser het ook kontak gemaak met die SWD Rugbyunie se president, Hennie Baardman, maar teen druktyd is nog geen terugvoering ontvang nie.
Moeilike jaar
In Oktober 2018, met die vorige jaarvergadering, het dit reeds geblyk dat daar 'n uitdagende jaar vir die klub sou voorlê. Sedertdien, het ontevredenheid oor die klub se bestuur kort-kort die voorgrond geneem. Verskeie lede van die bestuur het intussen bedank.
'n Woordestryd is kort-kort op sosiale media gevoer en verskeie gemeenskapsvergaderings is gehou om die kwelpunte te bespreek. Die Advertiser is genooi na 'n gemeenskapsvergadering op 20 Augustus en het daaroor berig. Tydens die vergadering, sou bemiddelaars en enkele afgevaardigdes uit die vergadering hulle griewe met die bestuur van Barbarians bespreek.
Die vergadering het wel geskied, waarna 'n bemiddelaarsverslag aan die Advertiser verskaf is. Die Advertiser het die verslag aan die voorsitter van die klub se bestuur, Dawid Kamfer voorgelê vir kommentaar vóór die AJV verlede week, 16 Oktober. Kamfer het gesê dat hy nie verdere kommentaar wil lewer wat die klub verdere skade kan aandoen of verdere tweespalt onder die gemeenskap kan bewerk nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'