Hierdie historiese oomblik, wat vooraf gegaan was met ‘n foto-uitstalling en ‘n kaas- en wyngeselligheid in die D‘Almeida-gemeenskapsaal, was beslis ‘n eerste in Mosselbaai. Sprekers by hierdie geleentheid was dit eens dat hierdie pronkstuk getiteld, 'Mosselbaai se vergete rugby-helde' gewis waarde gee aan die dorp se trotse rugbygeskiedenis uit die vorige era.
Rugbylegendes, Alfred Mitchel, David Smith, Nellis du Plessis en Fred Amsterdam en talle bekende persoonlikhede wat ook by die bekendstelling was, het die skrywer geloof vir die passievolle bydrae wat hy kon maak tot die verering van Mosselbaaise sporthelde op hierdie gebied.
Mnr Hennie Baardman President van SWD-rugby wat die gasspreker is, glo dat hierdie projek die begin is van groot dinge vir Theunissen wat ‘n groeiende passie het vir sy gemeenskap se geskiedenis.
Mnr Harry Levendal, Uitvoerende Onder-Burgemeester van Mosselbaai het in sy toespraak te kenne gegee dat Theunissen onderskat is in sy poging om sy doel te bereik en desnieteenstaande het hy sy kritici verkeerd bewys. Sy ywer en durf het van hom ‘n huishoudelike naam gemaak, nie net in Mosselbaai nie, maar ook in die omliggende dorpe, aldus mnr Levendal.
Dis Theunissen se wens dat die Departement van Sport en Kultuur, die Casinotrust asook die stadsvaders ‘n bydra moet maak om hierdie boek in die skole te versprei.
’n Tweede oplaag van sy boek sal weer op aanvraag gedruk word in Oktober vanjaar.
Daar is Mosselbaaiers wat al oor die jare deur en deur bewys het dat rugbyspeel in hulle bloed is. Die skrywer en rugbykenner Charles Theunissen het pas 'n boek bekendgestel wat hulde bring aan hierdie rugbyhelde van weleer. Hier is All Saints se kaalvoetspan van 1958 Foto: Verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'