TUINROETE RUGBYNUUS - 'n Reusestryd word vanmiddag, Vrydag 22 April, op Outeniquapark, George verwag wanneer die SWD Arende teen die Luiperds opdraf in 'n wedstryd van die eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Dit is die Arende se derde wedstryd van die 2022-reeks en hulle sal verseker baie graag die wedstryd wil wen.
Die Luiperds was immers verlede seisoen die kampioenspan.
Boonop is dit 'n tuiswedstryd en die Arendse sal beslis die voordeel wil benut. Hulle volgende wedstryd ná die Luiperds, is vroeg in Mei teen die Griffons in Welkom.
Die Arende het hul eerste wedstryd van die reeks met 15 - 34 teen die OP Olifante verloor. Daarna het dit aansienlik beter gegaan op 7 April toe hulle die Boland Kavaliers met 28 - 27 getroef het. Hulle het vier drieë tydens die wedstryd gedruk.
Die span het die Paasnaweek afgehad, maar was reeds Maandag hard aan die oefen.
Anton Moolman, hoofafrigter van die span het Dinsdag, 19 April gesê hulle verwag 'n groot aanslag van die Luiperds in George. Die Arende sien egter uit na die wedstryd. "Ons sien uit daarna om voort te bou op die vertoning en resultate van die Boland Kavaliers-wedstryd."
Volgens hom moet die Arende nou meer fokus op uitvoering. As die Arende die knoop kan deurhaak teen die Luiperds sal dit 'n groot stap vorentoe wees vir die res van die seisoen. 'n Wen sal beteken die span is nog steeds in die kampioenskap.
Covid-19-protokolle is steeds van toepassing en net 2 000 toeskouers sal op Outeniquapark toegelaat word.
Hekke open om 13:00. Die o/15-voorwedstryd begin om 14:15 en die hoofwedstryd tussen die SWD Arende en die Luiperds begin om 16:00.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'