MOSSELBAAI RUGBY NUUS - Teen die laat 1950's het Mosselbaai se twee bruin rugbyklubs, Springroses en Athletics geblom met opkomende rugbyspelers. Van hierdie spelers sou later huishoudelike name in rugbykringe word en van hulle sou tot in die nasionale span speel.
Daar was egter een speler wat uitgestaan het, maar ongelukkig het die noodlot hom van 'n plek in die nasionale rugbyspan weerhou.
As 'n jong aspirante agterlynspeler wou hy sy rugbyloopbaan destyds by Springroses begin. 'n Bekende senior bestuurslid van hierdie klub het hom laat verstaan hy is blykbaar te lig.
Hy het hom gewend tot Athletics en is daar met ope arms ontvang. So het hierdie blits van Mosselbaai se roemryke rugbyloopbaan gestalte gekry.
Raymond Harris (vleuel), seker een van die mees opwindende rugbyspelers wat Athletics nog kon oplewer, was 'n sensasie met die aanbreek van 1960.
Harris wat vroeg in sy rugbyloopbaan opgang gemaak het, het sy kritici verkeerd bewys.
Saam met hom was Cyril Hermanus (heelagter), Stan Prins en I Michaels (senters) en Willa Harris (skrumskakel) nie net hoog aangeskrewe nie, maar ook in 'n klas in hul eie. Op Paas-Maandag April, 1961 het Athletics die Sheppards-beker ingepalm in 'n finaal teen Springroses.
Die eindtelling was 14-3 danksy die agterlyn se puik aanvallende spel. Twee weke later, op 21 April bewys Raymond Harris dat sy gelyke werklik dun gesaai in SWD is, toe hy ses asemrowende drieë teen 'n span van George druk. Athletics wat hierdie kragmeting met 48-8 gewen het, was een van die min spanne indien nie die enigste in SWD wat daardie jaar wat met so 'n groot telling kon wen.
Harris se tydgenote in sportkringe uit sy era is dit eens, dat hy ook 'n spesiale plek, saam met die bestes in die geskiedenis van Suid Afrikaanse rugby, verdien. Naas Jack du Plessis was Raymond Harris ook in sy speeldae bekend as die prins van vleuels.
* In 'n volgende uitgawe vertel Charles Theunissen meer oor Mosselbaai se eerste Springbokke.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'