MOSSELBAAI NUUS - Die bulspan van Progress het Saterdagmiddag voor 'n groot aantal toeskouers op die Rosemoor-sportterrein 'n oortuigende oorwinning van 35-15 oor die nuweling in die SWD Premierliga-rugbykompetisie, Heidelberg, behaal.
Die verdedigende kampioenspan, wat vyf pragdrieë gedruk het, het met die vyfstervertoning getoon dat hul oor genoeg skietgoed beskik om weer die trofee op Saterdagmiddag, 1 September op Outeniquapark omhoog te hou.
Dit was die wenspan se agtste oorwinning die seisoen en hulle is bo-aan die punteleer met 40 punte.
Vir die wenspan het Brianton Booysen (haker), slotpaar André Barnardo en Justin Levendal, en lostrio, Solomon Manxodidi, Jonathan Simons en Christo du Plessis voorlangs gekook.
Gladwell Jaftha (losskakel) en Carlton-Dee Coeries (binnesenter) was hul groot planmakers agterlangs. Veral Coeries, wat aangewys is as speler van die wedstryd, was uitstekend in die aanval en verdediging.
Jason Liebenberg (plaasvervanger-losskakel), Francois Pieters (binnesenter), Fernoldt Buis (linkervleuel) en Corbin Swartbooi (heelagter) van Heidelberg het agterlangs die oog gevang met hul spoed.
Voorlangs het die oud-Arend, Lyndon Hartnick (agtsteman) en Simon du Toit (slot) vir die verloorspan uitgeblink.
Barbarians
Barbarians het in 'n naelbytstryd vir Bridgton op sy tuisveld met 13-12 getroef. José Petersen (regtervleuel) en Winston Seconds (agtsteman) het vir die wenspan gaan druk. Wahlan Anthony (heelagter) slaag met 'n doelskop.
Vir Bridgton is Anver Venter (buitesenter) en Rhupino Plaatjies (binnesenter) oor vir drieë. Keanin Esau (losskakel) klits 'n doelskop oor.
Groot Brak
Groot-Brakrivier het op sy tuisveld vir Crusaders met 14-5 geklop. Byrol Stuurman (flank) en Ashwill van Wyk (binnesenter) het vir die wenspan gaan druk. Crusaders se drieë is deur Livando Maxeke gedruk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'