MOSSELBAAI NUUS - Die EPC Buis Rugbytoernooi wat gister, Saterdag, 19 April op D’Almeida Park gehou is, gaan ‘n jaarlikse instelling word.
So sê Connie Buis, die hooforganiseerder van die toernooi. Die formaat van die kompetisie gaan definitief ook aangepas word.
Hy glo en vertrou dat plaaslike besighede sal inkoop om deel te wees van die opheffing van jong kinders in die groter Mosselbaai en op die omliggende plase.
Met agt spanne wat deelgeneem het, is sprankelrugby opgelewer. Mosselbaai se twee spanne, Barbarians en Titans, het saam met Happy Hearts van Brandwag en Young Leaves van George deurgedring na die semifinaal.
Barbarians en Happy Hearts het mekaar in die finaal die stryd aangesê. En wat ‘n wedstryd was dit nie. Barbarians het hierdie een net-net deurgehaak met ‘n telling van 24 – 21. Lees die volledige wedstrydverslag in komende Vrydag se Mossel Bay Advertiser.
In ‘n onderhoud met Buis voor die aanvang van die dag se verrigtinge, was sy passie vir die spel van rugby en sy omgee vir sy medemens duidelik, net soos sy vader voor hom. Mnr Buis, soos sy vader in die Suid-Kaap en in die groter SWD bekendgestaan het, was nie net ‘n kranige rugbyspeler nie, maar het ook op die destydse SWD-bestuur gedien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’