MOSSELBAAI SPORTNUUS - Gedurende die middel 1960's het 'n groot eer Mosselbaai RVK te beurt geval. David Smith, woelige losvoorspeler is opgeneem in die Springbokspan van die destydse Suid-Afrikaanse Kleurling Rugby Raad.
Die Mossel Bay Advertiser het met trots in 1965 daaroor berig.
Onder die opskrif, S.W.D. KRY 2 SPRINGBOKKE, is die artikel vol lof.
"Twee lede van die Suidwestelike Distrikte se rugbyspan is ingesluit in die Springbokspan van die Suid-Afrikaanse Kleurling Rugby Raad wat op 4 September in Kaapstad teen 'n Suid-Afrikaanse span van die Bantoe Rugby Raad in 'n toets wedstryd te staan kom.
Die S.W.D. spelers is David Smith (flank) van Mosselbaai en Leon Carelse (vleuel) van Kollege (Oudtshoorn). Hierdie is die hoogste eer wat 'n speler te beurt kan val en dit was in 1953 laas dat 'n speler uit S.W.D. in die span opgeneem was.
Die verwagting is dat dit 'n groot aanmoediging vir jonger spelers in die gebied sal wees, om daarna te strewe om hul Springbok-kleure te verwerf!"
'n Week later, verskyn S.W.D. se Bokke blink uit!, in die Advertiser.
Die S.W.D. se twee Bokke in die Suid-Afrikaanse Kleurling Rugbyspan het verlede Saterdag 'n groot aandeel gehad in hul span se oorwinning van 14-11 in 'n toetswedstryd teen 'n S.A. Bantoe span in Kaapstad. Nege van die 14 punte is deur die twee manne aangeteken.
David Smith (flank) van Mosselbaai het twee strafskoppe oor geskop, en Leon Carelse (vleuel) van Oudtshoorn het 'n drie gedruk. *
David Smith sou nie Mosselbaai se laaste Springbok wees van daardie jaar nie. Later dieselfde jaar het Nellis Du Plessis (vleuel) ook sy Springbokkleure gekry.
* Berig verkort.
Lees meer in 'n volgende uitgawe oor Springroses se Springbokke.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'