TUINROETE DISTRIK RUGBY NUUS - Rugbyspanne wat die seisoen in die 1ste divisie van die Curriebeker teen die SWD Arende uitdraf, wees gewaarsku: Die Arende wil die beker wen.
Die Arende se opmars om uiteindelik die beker omhoog te hou, begin vandag, Vrydag 18 Junie, om 17:00 wanneer die span teen die Valke op Outeniquapark op George uitdraf.
Aangesien Covid-19-regulasies steeds van toepassing is, sal geen toeskouers ongelukkig die wedstryd mag bywoon nie.
Die Arende het verlede week sy groep van 31spelers aangekondig waarvan 21 plaaslike spelers is. Die ander 10 kom van ander streke en is nader getrek in posisies soos stutte en slotte. Tydens die geleentheid het Hennie Baartman, uniepresident, die spelers en bestuur sterkte toegewens vir die komende seisoen.
Eddie Myners, hoofafrigter van die span, het sy vertroue in die span asook sy bestuur uitgespreek.
Die afrigtingstoele is natuurlik niks nuuts vir Myners nie. Hy het in 2007 by die Arende begin as afrigter van die o/21-span. Later het hy tegniese adviseur en afrigter van die voorspelers vir die seniorspan geword. Daar was talle suksesse waaronder voorspelerafrigter toe die Arende die 1ste divisie van die Curriebeker in 2018 gewen het.
Die pad vorentoe
In sy speeldae het hy onder meer uitgedraf vir die Arende se amateurspan.
Later in 'n openhartige gesprek met George Herald, die Mossel Bay Advertiser se susterskoerant het Myners gepraat oor die pad vorentoe. Hy het geen illusies en weet wat wag. Die feit dat daar op die oomblik geen klubrugby is nie, is 'n nadeel, maar hy glo daar is heelwat talent in die streek. In die samestelling van die groep is onder meer gekyk na jonger talent.
Hy het gesê die manne is honger om te speel. Hulle het meer as 450 dae laas in amptelike wedstryde in die groen truie gespeel. Daar was laas in 2019 Arende-rugby op Outeniquapark. "Ons sien uit na Vrydag se wedstryd. Dis boonop op ons tuisveld."
Die wedstryd is baie belangrik want die Arende moet op 'n goeie noot begin.
Hy het benadruk wedstryde word nie benader net "om deel te neem nie" maar om te wen en uiteindelik die beker te wen.
Hy dit as 'n jong span beskryf met 'n bietjie ervaring. Die span se sterkpunt is 'n baie goeie agterlyn. Dis belangrik dat hulle goeie balbesit kry. "As ons 'n goeie grondslag voorlangs lê, het ons genoeg slaankrag agter."
Covid-19 is 'n groot uitdaging en spelers word elke week getoets. Hy het groot lof gehad vir Martin de Vos, die spanbestuurder, wat sorg dat alle Covid-19-protokolle in
plek is.
Dis jammer dat geen toeskouers toegelaat word nie, maar hy glo dinge sal verbeter.
Die ondersteuners is baie belangrik. Hy het sy dank teenoor hulle uitgespreek vir hul steun oor die jare.
"Ek belowe ons sal hulle trots maak. Ons is dankbaar vir die Here dat ons nog kan speel."
Wedstryd-bepalings vir die Arende sien as volg uit:
- 18 Junie - Valke (tuis)
- 26 Junie - Leopards (weg)
- 02 Julie - Griffons (tuis)
- 10 Julie - Boland (weg)
- 16 Julie - Grens (tuis)
- 24 Julie - OP (weg)
Eddie Myners (hoofafrigter); Nkosi Nofuma (medekaptein); Marquit September (kaptein); Shane Ball (medekaptein); Hennie Baartman en Veda Manie. Foto: Martin de Vos
Die uitgebreide Arende groep. Afwesig: Tiaan Fourie en Pieter Fereirra. Foto: Christopher Vernaak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'