MOSSELBAAI RUGBYNUUS - In 1971 tydens die Rhodes-toernooi in Kaapstad is hy as een van die beste heelagters by die toernooi beskryf.
Die buksie-heelagter, Harry James wat sy buiging op 'n jeugdige ouderdom vir Mosselbaai-klub gemaak het, was gedurende sy speeldae as "Die Hek" onder plaaslike rugbygeesdriftiges bekend.
Rugbykenners uit sy era was dit eens dat nasionale kleure vir hom gewink het by hierdie gewilde jaarlikse rugbytoernooi van 'n vorige era. Ongelukkig was dit hom nie beskore nie.
James, wat 'n gereelde gesig in die SWD-span was, se posisionele spel op heelagter was altyd 'n lus vir die oog. Met veilige hande en reuse torpedoskoppe het hy gereeld sy opponente weg van sy doellyn gehou, vandaar sy bynaam, "Die Hek".
Saam met hom by hierdie toernooi was Andrew Grootboom. Grootboom was oorspronklik van Oudtshoorn en het sy rugbyloopbaan by Mosselbaai-klub voortgesit. Tollie soos hy bekend was, se insluiting in die SWD-span van 1971 kon nie op 'n beter tyd gekom het nie.
Rugbykenners was vol lof vir sy klassieke en aanvallende speelstyl in die middelveld. Sy oog vir 'n gaping, balverspreiding en rotsvaste verdediging het van hom die mees uitstaande agterlynspeler by die Rhodes-toernooi gemaak.
Na afloop van die toernooi, is Grootboom met nasionale kleure vereer.
Terug by Harry James. In 1981 en 10 jaar later as veteraan, dien hy as kaptein van Mosselbaai Klub in 'n finaal teen Oaks van Swellendam op Pacaltsdorp waar hulle om die NCCR-trofee meeding.
Oaks, wat as die gunstelingspan op die veld gedraf het, het teen 'n begeesterde 15-tal van Mosselbaai-klub te staan gekom. Hierdie titaniese stryd is deur Mosselbaai-klub gewen. 'n Span boordens toe vol met beide jeug en ervaring. Saam met James in hierdie kampioenspan was veterane Glen du Plessis, Allen Pickering (vleuels), Julian James (senter), Amos Manie (losskakel), Mike Jones (skrumskakel) en Abdon Kannemeyer (stut).
Jonger spelers wat deel was van hierdie wenspan sou later nog groot opgang in hul rugbyloopbane maak.
In Leonard Bruintjies (agsteman), George Habelgaarn (stut/slot) Lance Petersen, Densil Prins (slotte), Derick Hendricks (flank), Joey Bavuma (haker) en Richard Prins (stut) het Mosselbaai Klub groot potensiaal gehad.
'n Uitstaande agterlynspeler, Tollie Grootboom.
* In 'n volgende uitgawe: Young blues se rugbyhelde
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'