MOSSELBAAI RUGBY NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit se rugbyspan was Saterdag, 28 September net te sterk vir hul teenstanders van Oudtshoorn. Hulle het die Oudtshoorn-munisipaliteitspan met twee punte laat kantel ná 'n uitstekende terugvegpoging.
Uiteindelik was die telbord 28-26 in Mosselbaai se guns.
Munisipale bestuurder adv Thys Giliomee het die span na afloop van die wedstryd met hul eerste oorwinning gelukgewens en die span alle voorspoed toegewens met die voorbereidings vir hul volgende wedstryd. Hy het die vertroue uitgespreek dat Mosselbaai se span in die finaal op 9 November op Outeniquapark in George die trofee omhoog sal hou.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, beskermheer van die span, sê rugby bou uitstekende leierskapsvaardighede en groepskohesie. Ook hy het die span en hul kaptein, Shario Rosenkrantz met die eerste oorwinning gelukgewens.
Agt dorpe in die groter Tuinroete gaan teen mekaar meeding om uiteindelik as die beste munisipale span gekroon te word.
Mosselbaai sal meeding teen die spanne van George, Oudtshoorn en Hessequa. Mosselbaai sal op 12 Oktober Hessequa aanvat op die D'Almeida-stadion, en op 2 November takel George die Mosselbaaiers op die Greenhaven-sportgronde in Groot-Brakrivier.
Die uitslae ná afloop van die eerste ronde van die nuwe SWD munisipale klubkompetisie was soos volg:
Gemeenskapsbeker
George klop Hessequa 43-31
Mosselbaai klop Outshoorn 28-26
Gemeenskapskild
Sentraal-Karoo klop Kannaland 33-20
Bitou klop Knysna 33-26
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'