MOSSELBAAI NUUS - Swellendam R.V.K. en die Happy Hearts van Brandwag is as die eerste kampioenspanne van die Mosselbaai Paasfees-rugbytoernooi gekroon.
Dié toernooi het Vrydag 3 April in D’Almeidapark sy debuut gemaak.
Beide klub- en skolerugby is oor drie dae hier ten toon gestel met die stryd om die klubs se A- en B-afdelingbeker wat gister, Maandag 6 April, plaasgevind het.
Alle oë was natuurlik op die finaal tussen die grootmanne van die A-afdeling. Hier het Swellendam ’n titaniese stryd teen Mosselbaai Barbarians met 61 - 46 gewen. Die Legends-beker is nou tot volgende jaar in hul trofeekas.
Hierdie kragmeting, wat eers in ekstra tyd beklink is, het van die beste hardlooprugby deur beide spanne opgelewer.
Barbarians het in die eerste helfte vier keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier en beslis na die gunstelinge gelyk. Die besoekers het egter ander planne gehad en voor rustyd twee maal gaan druk. Een van dié drieë is met slegs 12 Swellendam-spelers op die veld gedruk - drie van hulle is weens ontoelaatbare spel koelkas toe gestuur.
Die wedstryd tussen Barbarians en Swellendam. Foto: Breyton Robertson Photography
Met die telling op 22 - 12 in die Babaas se guns het die manne gaan water drink.
Goeie samespel tussen Barbarians se voor- en agterspelers het vir nog drie vyfpunters in die tweede helfte gesorg. Die besoekers kon ook nog punte op die telbord sit, maar met slegs vyf minute oor en die telling op 39 - 29 het ’n oorwinning vir Barbarians gewink.
Swellendam het egter nie gaan lê nie en binne die bestek van dié paar minute twee drieë gedruk. Met die eindtelling op 39 elk is die wedstryd in ekstra tyd in.
In die eerste 10 minute was dit Barbarians wat eerste oor die doellyn gegaan het. Dit sou egter hul laaste punte wees, want hierna was dit die besoekers wat in die tweede helfte van ekstra tyd die uitklophou met nog drie vyfpunters geslaan het.
Grabouw en die Crusaders het om die derde en vierde plekke meegeding. Grabouw het hier as wenners uit die stryd getree. Eindtelling: 41 - 19.
In ’n ewe spannende B-afdelingfinaal het twee plaaslike spanne, Happy Hearts en Mosselbaai Titans, mekaar die stryd aangesê. Happy Hearts het uiteindelik die Gerald de Jager-beker met ’n eindtelling van 19 - 14 ingepalm.
Die wenners van die Gerald de Jager-beker, Happy Hearts. Foto: Dexter Brinkhuis
Die Mosselbaai Marlyne het die derde plek ingeneem ná hulle Barbarians se B-span met 29 - 24 geklop het.
Hoërskooluitslae:
Sao Bras wen teen Parkdene met 42 - 19.
Groot-Brakrivier wen vir Hillcrest met 19 - 14.
Sao Bras wys hul staal. Foto: Breyton Robertson Photography
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’