MOSSELBAAI SPORT NUUS - Mosselbaai-rugbyklub het op Saterdag, 24 Augustus op sy tuisveld ordentlik met Zoar afgereken en hulle behoorlik van die veld afgevee deur hulle met 'n kriekettelling van 87-3 te wen.
Mosselbaai se A-span het in sy oorwinning van 87-3 met goeie hardlooprugby vorendag gekom en sodoende 13 drieë gedruk en met 11 doelskoppe geslaag.
Elke keer as Mosselbaai aan die bal vat was die skare op hul voete en is die span aangemoedig om agter die pale van Zoar te gaan kuier.
Vir Mosselbaai het Heinrich Botha (drie drieë), Arno Moolman, Xander Meyer, Reinhardt Stears (almal twee drieë), Wayne Claasen, Jorin Robertson, Chad Brinkholtz en Theo Hendricks (almal een drie) punte aangeteken.
Arno Moolman wat nie net twee drieë gedruk het nie maar ook met 11 doelskoppe geslaag het is as speler van die wedstryd aangewys.
B-span
Mosselbaai B het ook sy wedstryd oortuigend gewen met 31-0 en sodoende ook vyf bonuspunte verower soos die A-span. Ruan Venter was is as die speler van die wedstryd aangewys.
Naweek
Mosselbaai reis eerskomende naweek na Slangrivier vir sy laaste groepwedstryd en hoop om dit goed af te sluit en met 'n oorwinning huis toe te keer. Mosselbaai het tot dusver hierdie seisoen floreer onder leiding van hoofafrigter John Cooper en hulpafrigter Danie van Langelaar. Hulle het 13 van hulle 15 wedstryde gewen, een verloor en een gelykop gespeel.
Mosselbaai lê tans in 'n kwarteindronde plek wat hulle tuis sal kan speel, maar alles hang van die naweek se uitslag af om te besluit teen wie hulle te staan gaan kom. Daar is ook 'n kans dat hulle reguit deur kan gaan semi-finaal toe, maar dan moet Stillbaai vir Albertinia op Stillbaai klop.
Die bestuur en afrigters nooi die breë gemeenskap van Mosselbaai uit om die span te kom ondersteun in sy pad vorentoe in sy kwarteindronde tuiswedstryd op 7 September. "Kom geniet heerlike handlooprugby."
Reinhardt Stears druk een van sy twee drieë.
Mosselbaai-skrumskakel Siya Cukata op aanval met bal en Arno Moolman by vir ondersteuning.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'