Gallery
MOSSELBAAI RUGBYNUUS - Mosselbaai-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag die All Blacks van Oudtshoorn in 'n halfeindstryd van SWD-Presidentsliga met 36-29 uit die liga geboender.
Mosselbaai het in eerste helfte van die wedstryd oorheers en was halftyd met 29-10 voor. All Blacks het egter nie gaan lê nie en in die tweede helfte teruggeveg maar Mosselbaai se plaasvervangers het met vars bene die wedstryd vir Mosselbaai deurgetrek.
Mosselbaai se vinnige suiwer voorvoet-bal wat die voorspelers aan hul agterlyn gevoer het, het All Blacks se verdediging telkemale oorhoops gehad. All Blacks, wat daarvoor berug is dat hulle in die tweede helfte op alle silinders vuur, het so byna die kastaiïngs uit die vuur gekrap toe hulle op 'n stadium die tuisspan se voorsprong na 29-22 verklein het. Mosselbaai het hulle egter nie van stryk laat bring nie en laat in die wedstryd 'n beslissende verdoelde drie gedruk om die druk op All Blacks te hou.
Voorlangs het Reinhardt Stears, Wayne Cameron, Heindricht Botha, Jean Fry en Chad Brinkholtz uitgestaan en agter langs was dit Arno Moolman en Theo Hendriks wat uitgestaan het en die oog gevang het op die aanval. Arno Moolman is as speler van die wedstryd aangewys.
Mosselbaai het 'n uitstekende en aantreklike hardlooprugby gespeel
Die telbord het alles vertel.
Eindstryd
Mosselbaai speel môre, Saterdag 21 September, op Outeniquapark, George teen Eagle Stars van Sedgefield. Dié wedstryd begin om 16:00. Die hekke open al om 08:00 met die eerste wedstryd wat om 09:00 afskop. Mosselbaai-rugbyklub was in 2013 in die B-liga finaal aan die wenkant en sê hulle wil graag Saterdag in die A-liga finaal ook so maak en die trofee terug Mosselbaai toe bring.
Die bestuur en afrigtingspan nooi almal uit om op te trek na Outeniquapark met hul blou en rooi en Mosselbaai te gaan ondersteun.
Span
Mosselbaai se span vir Saterdag se kragmeting is: Gerben Dykstra, Wayne Cameron, Roaule Beukes, Heinricht Botha, George Lerm, Jean Fry, Reinhardt Stears, Chad Brinkholtz, Ryan van der Westhuizen, Arno Moolman, Gershvin Jansen, Stanley Fry, Ginewun Hendricks, Jorin Robertson en Sylvester Kuhn. Reserwes: Alwyn van Zyl, Cornel Kruger, Tiaan Visser, Xander Meyer, Jon-David Duthie, Sineliwi Cukata en Julvrin Laws.
Hulle word ondersteun deur die John Cooper (hoofafrigter), Danie van Langelaar (hulpafrigter), Charl Dynes (spanbestuurder), Adriaan Byleveldt (medic) en Stan Fry (ondervoorsitter).
Dit was 'n harde halfeindstryd tussen Mosselbaai en All Blacks. Foto's : Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'