MOSSELBAAI RUGBY NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se rugbyspan het die krane behoorlik oopgedraai in die finaal van die SWD munisipale-uitdaagreeks se gemeenskapsbekerafdeling toe hulle Saterdag die span van George-munisipaliteit op Albertinia met 42-24 verslaan het.
Mosselbaai het nie van meet af aan voorgeloop nie, maar die bordjies in die 23ste minuut verhang toe hulle die voortou neem.
Mosselbaai het hierna die punte opgestapel en teen rustyd was die telling 14-10 in Mosselbaai se guns.
Ná rustyd het die Mosselbaaiers egter met nuwe oorgawe gespeel en die punte stelselmatig opgestapel. Met nog 35 minute oor het die telling tot 21-10 geklim en met 33 minute oor het die span van George punte aangeteken en die telling na 21-17 gewysig. Die Mosselbaaiers speel met krag en teken nog twee vervyfde drieë aan om die telling tot 35-17 te laat rek waarna George ook weer agter die doellyn gaan kuier en die telling na 35-24 verander.
Met slegs een minuut voor die eindfluitjie blaas maak Mosselbaai die eindtelling op 42-24 vas.
Fotogalery: Mosselbaai kampioene van SWD Munisipale-uitdaagreeks
Mosselbaai se munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het die span vir hul volgehoue goeie spel geloof.
Mosselbaai se puntemakers was - drieë: Reinhardt Stears (2), Curshwin Mono (1), Edgar Syfers (1), Patrick Amsterdam (1) en een strafdrie. Doelskoppe: Henn-Lin Botha (5).
Reinhardt Stears is as beide die speler van die wedstryd asook die speler van die reeks aangewys met Edgar Syfers wat die meeste punte in die toernooi aangeteken het, naamlik 72 punte.
Mosselbaai-munisipaliteit se rugbyspan wat as kampioene gekroon is in die SWD munisipale-uitdaagreeks se gemeenskapsbekerafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'