MOSSELBAAI NUUS - Wanneer buurmanne mekaar op die rugbyveld aanvat, beloof dit vuurwerke, emosies en ’n skouspelagtige vertoning.
Dít was juis die geval toe Mosselbaai Barbarians en Groot-Brakrivier mekaar die afgelope naweek by Van Riebeeck-stadion die stryd aangesê het.
Voor hierdie kragmeting was die Brakkies nog vir die seisoen onoorwonne teen Babaas.
Hulle het reeds drie wedstryde teen mekaar gespeel, waarvan twee vriendskaplik was en een in die liga. Dus het hulle as die gunstelingspan op die veld gedraf - Barbarians het egter hiérdie een met 22 - 20 gewen. ’n Vertoning wat goeie dinge vir hulle met die aanloop tot die uitspeelrondes voorspel.
Die wedstryd het teen ’n vinnige tempo begin, toe Babaas se vleuel, Curlin Groenewald, in die tweede minuut vir die eerste drie oorgegaan het. Edgar Syfers het dit daarna verdoel.
Die Brakkies het stelselmatig hul stempel begin afdruk, maar kon nog nie die doellyn oorsteek nie. Babaas se Eschen Jansen het eers gesorg vir sý span se tweede drie, wat weer deur Syfers verdoel is.
Hierna was dit Brakkies se Elhmere Claassen wat sy span op die telbord gekry het. Hy het ná ’n goeie rolmaalbeweging vir ’n vyfpunter oor Babaas se doellyn gegaan. Brak het hul spelpyl gelig en het gevaarlik op die aanval gelyk, maar hanteerfoute aan húl kant en goeie verdediging aan die kant van die Barbarians het hul pogings in die kiem gesmoor.
Groot-Brak en Barbarians se kapteine, Marquin Smart en Bradley Sumaro. Foto: Owen Sports Photography
Voor rustyd het Qurin Cupido vir Babaas se derde vyfpunter oorgegaan. Die spanne is met ’n halftydtelling van 19 - 8 kleedkamer toe.
Vanaf die afskop in die tweede helfte was Groot-Brak die meer aanvallende span en het hulle groot druk op die tuisspan se verdediging geplaas. In die tiende minuut het Anroy Roelfse, Brak se flank, oorgegaan vir hul tweede drie wat ook verdoel is.
Weens ’n paar hanteerfoute en goeie verdediging van hul opponente kon Barbarians nie oor die voordeellyn kom nie.
Barbarians se Shane Vaughn (6) ondersteun sy kaptein, Bradley Sumaro op die verdediging teen McNeil Andrews en Shannon Robertson van Groot-Brak. Foto: Owen Sports Photography
Babaas se enigste punte in die tweede helfte het gekom ná ’n strafskop wat Brenwin Barends in die 30ste minuut deur die pale geklits het. Slegs vyf minute later antwoord die Brakkies egter met vyf punte van hul eie toe Esra Matroos deur ’n gaping gaan. Die doelskop was mis en die telling op 22 - 20 in die Babaas se guns.
In die doodsnikke van die wedstryd het die Brakkies in Babaas se kwartgebied geboer, maar kon nie die uitklophou plant nie.
’n Goeie wedstryd was dit gewis en beide spanne het die potensiaal om die uitspeelrondes te haal.
Barbarians se B- en C-spanne het onderskeidelik met 31 - 25 en 22 - 19 gewen.
Dié naweek speel Barbarians ’n tuiswedstryd teen Silver Stars, terwyl Groot-Brak oor die berg gaan om Bridgton te pak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’