TUINROETE DISTRIK RUGBYNUUS - Nieteenstaande twee terugslae vroeg in die huidige 1ste divisie van die Curriebekerreeks, is die SWD Arende vol moed vir Vrydag 2 Julie, se kragmeting teen die Griffons.
Die Griffons reis van Welkom op die Vrystaatse Goudvelde om die Arende op Outeniquapark aan te durf.
Die Arende het ongelukkig sy eerste wedstryd in die reeks op 18 Junie teen die Valke met 17-50 verloor. Dit was 'n tuiswedstryd. Verlede Saterdag, 26 Junie, sou die span teen die Luiperds in Potchefstroom speel, maar dit is afgestel omdat twee van die Arende se spelers positief vir Covid-19 getoets het. Die Luiperds het die vier reekspunte van die wedstryd gekry.
Eddie Myners, afrigter van die Arende, het Dinsdag gesê die feit dat die wedstryd teen die Luiperds afgestel moes word, het 'n negatiewe impak gehad. Die Arende het die reekspunte verbeur en daar was ook nie geleentheid om wedstrydoefening te kry nie. "Wedstrydoefening is iets wat ons nou broodnodig het."
Dit was juis een aspek wat geblyk het na die eerste wedstryd.
Die nederlaag teen die Valke was jammer, maar die span het dit nou agter hom gesit. "Ons het afgelope Saterdag 'n goeie oefensessie gehad.
"Ons het gekyk waar ons te kort geskiet het in die vorige wedstryd. Ons wil daaruit leer." Myners het benadruk dat hy 'n moeilike wedstryd teen die Griffons verwag. Hulle is een van die gunstelingspanne om die reeks te wen. "Hulle het 'n baie goeie span en het in 2019 in die eindstrydverloor.
"Die span het ook reeds twee wedstryde agter die rug en het beide teen die OP en die Grens Bulldogs gewen. Vandag gaan 'n moeilike neut wees om te kraak."
Die spelers wat positief getoets is, is nie oorweeg vir môre se wedstryd nie. Die beseringspook loop nie en behalwe vir die twee spelers wat positief getoets is, behoort die Arende met 'n goeie span op die veld te kan draf.
Volgens Myners is die gees in die span en kamp goed. "Die manne verstaan die impak van Covid-19. Hulle is gefokus op die werk wat ons op die veld moet doen."
Die wedstryd begin om 17:00 en geen toeskouers word as gevolg van Covid-19-regulasies toegelaat nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'