MOSSELBAAI RUGBY NUUS - Mosselbaai het verlede Vrydagaand, 18 Oktober behoorlik die mat onder Oudtshoorn uitgeruk toe hulle die volstruise in die SWD Munisipale-uitdaagreeks op hulle tuisgrond met 36-26 geklop het.
Oudtshoorn was op daardie stadium die voorlopers op die punteleer van die gemeenskapsbeker-afdeling.
Mosselbaai is ná Vrydagaand se oorwinning tans voor met George tweede, Oudtshoorn derde en Hessequa vierde.
Vrydagaand se loesing op die Bridgton-sportterrein was die volstruise se tweede loesing in dié reeks teen die einste Mosselbaai nadat hulle ook drie weke gelede op Brandwag net-net met 28-26 vasgeval het.
Die eerste helfte tussen Mosselbaai en Oudtshoorn Vrydagaand kan vergelyk word met twee swaargewig-boksers wat met taktiese vernuftheid die oorhand oor sy teenstander probeer kry - soveel so dat na 'n halfuur se spel daar geen punte op die bord vir albei spanne was nie.
Die Mosselbaaiers se fisiese aanslag was van die begin af iets ysliks om te aanskou, maar Oudtshoorn het aanvanklik nie 'n tree teruggestaan in die kontaksituasies nie. En dit is dalk hier waar die tuisspan gefouteer het om in 'n spreekwoordelike handdruk-geveg betrokke te raak omdat dit soveel energie tap en maklik kan boemerang.
Maar nou ja, alles is natuurlik baie makliker in retrospek.
Daar was nietemin bitter min te kies tussen die spanne met Mosselbaai wat rustyd met slegs 8-7 voorgeloop het.
Twee vinnige drieë deur die volstruise met die aanvang van die tweede helfte het hul voorsprong na 19-8 gerek met menige tuisondersteuners wat optimisties was vir 'n potensiële wraakoorwining.
Mosselbaai het egter in hierdie tydperk Oudtshoorn se lynstane begin ontwrig terwyl die volstruise hulle nou ook in trurat bevind het wat die skrums betref. Die manne in oranje en blou se agttal het stelselmatig hul spiere gebult en die spreekwoordelike handdruk-geveg begin wen.
Gapings is in hierdie tydperk oral oopgevlek en verbroude duikslae was aan die orde van die dag; soveel so dat die besoekers nonchalant vier verdoelde drieë gaan druk het. Oudtshoorn het, met die wedstryd so te sê in die sakkie vir Mosselbaai, sy laaste drie gedruk toe die vleuel Charlston Ewerts deur die kleinste van gapings geglip het om sy slot Everton Manewil oor te stuur vir sy drie.
Die tuispan se losskakel Damian January het verdoel met die wedstryd wat kort daarna afgeblaas is. Eindtelling 36-26.
Puntemakers
Mosselbaai se drieë is deur Shadward Fillies, Edgar Syfers, Curtley Kiewiet, Reinhardt Stears en Winrich Kennedy aangeteken terwyl Edgar Syfers sukses behaal het met vier doelskoppe en 'n strafskop om sy persoonlike aandeel in Mosselbaai se telling op 16 te staan te bring.
Die bestuurspan se opregte dank en waardering aan al hul ondersteuners.
Speler van die wedstryd was agsteman en kaptein Reinardt Stears en beste agterspeler was binnesenter Edgar Syfers. Syfers is ook die top puntemaker (48 punte) in die liga.
Mosselbaai se volgende kragmeting is vanaand, Vrydag 25 Oktober, om 19:30 wanneer hulle op Riversdal se Riverville-sportstadion teen die span van Hessequa te staankom. Daarna volg 'n kragmeting op 1 November teen George op die Greenhaven-stadion op Groot Brak en op 9 November die finaal.
Heinrich Botha (slot) beur hier vorentoe met die bal terwyl hy deur Elmehre Claassen (stut) ondersteun word. Foto: Hugo Redelinghuys
Binnesenter, Edgar Syfers (links) is na die wedstryd teen Oudtshoorn aangewys as die beste agterspeler maar is ook die top puntemaker (48 punte) in die liga. Hier is hy in aksie tydens 'n onlangse wedstryd teen George.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'