Gallery
TUINROETE RUGBY NUUS - Die SWD Arende is na groot nederlae teen die DHL Westelike Provinsie en die Boland-Kavaliers in die Supersport-uitdaagreeks weer terug op die wenpad.
Hulle het Saterdagmiddag met aanskoulike hardlooprugby die OP Olifante op die Rosemoor-sportterrein met 47-28 geklop. Rustyd was die wenspan reeds met 28-0 voor gewees.
Die jongste puntestand in die kompetisie is: DHL Westelike Provinsie 29 punte en punteverskil (+200); Boland Kavaliers 16 punte en punteverskil (+38); SWD Arende 15 punte en punteverskil (-21), Grens-Bulldogs 10 punte en punteverskil (-82); OP-Olifante 5 punte en punteverskil (-135).
Die Arende het die oorhand gehad in die skrums en was ook baas in die vaste fasette. Hul sal egter hard moet werk aan hul verdediging, wat in die tweede helfte gelol het toe hulle die Olifante toegelaat het om vier drieë te druk.
Die vlugvoetige heelagter van die Arende, Leighton Eksteen, wat aangewys is as speler van die wedstryd, was sy span se groot generaal. Hy het 17 punte met 'n drie en ses doelskoppe aangeteken. Eksteen was altyd gevaarlik as hy by sy agterlyn aangesluit het en het 'n groot aandeel gehad in die sewe pragdrieë wat sy span gedruk het. Met sy taktiese skoppe het hy die besoekers telkemale laat omdraai.
Die spoedvraat, Alshaun Bock (linkervleuel) se terugkeer in die Arende span kon nie op 'n beter tyd gekom het nie. Bock, wat 'n skitterende drie gedruk het, het die skare telkemale op hul voete gehad met sy spoed.
In die middelveld het hul senterpaar, Marlou van Niekerk (kaptein) en Tyler Fisher, in die aanval en verdediging geskitter.
Voorlangs het hul lostrio, Davon Raubenheimer, Nicolaas Immelman, Wayne Wilschit, Ruben Schoeman (slot), Le Roux Baard (haker) en Janneman Stander (plaasvervanger-flank), uithalerspel gelewer.
Nicolaas Immelman, flank, val net kort van die doellyn terwyl die skeidsregter sake fyn dophou.
Puntemakers:
SWD Arende 47 (28): Drieë - Johan Steyn (skrumskakel), Cornell Hess (slot), Ruben Schoeman (slot), Alshaun Bock (linkervleuel), Tyler Fisher (buitesenter), Janneman Stander (plaasvervanger-flank), Leighton Eksteen (heelagter). Eksteen slaag ook met ses doelskoppe.
OP-Olifante 28 (0): Drieë - Riaan Arends (regtervleuel), Nkululeko Marwana (binnesenter), Mbeko Kota (haker), Quinten Haasbroek (plaasvervanger). Ruben de Vos (losskakel) klits drie doelskoppe oor en Simon Bolzer (plaasvervanger) slaag ook met 'n doelskop.
- 7273 - Adi Jacobs (14)
- 6595 - Le Roux Baard (2)
- 6614 - Nicolaas Immelman (7)
- 6809 - Ruben Schoeman (4)
- 7037 - Jacques Vermaak (16) en Davon Raubenheimer (8)
- 6970 - Nicolaas Immelman (7)
- 9706 - Basil Short (3)
- 9931 - Marlou van Niekerk (12)
Janneman Stander het skaars nadat hy as plaasvervanger-flank op die veld verskyn het, gaan druk. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'