RUGBY NUUS - Ná 'n aanvanklike baie goeie begin met vyf oorwinnings agtereenvolgens, is die plaaslike Barbarians rugbyspan nou in 'n oorlewingstryd gewikkel om te kwailifiseer vir 'n plek in die halfeindronde van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premier Liga vir klubspanne.
Die Babaas se eerste span het die afgelope Saterdag in 'n wegwedstryd teen Heidelberg sleg verloor toe die tuisspan hom met 35-3 ore aangesit het.
Dit was die Mosselbaaiers se tweede loesing in 'n wegwedstryd en sy derde nederlaag agtereenvolgens ná hulle ook verlede week in 'n titaniese stryd op hul tuisveld die knie met 17-21 teen Evergreens moes buig.
Heidelberg was verlede jaar die naaswenner in die Premier Liga.
Alles is egter nog nie verlore nie. Môre kom die Babaas teen Progress op sy tuisveld op Rosemore te staan en die uitslag van dié kragmeting kan bepalend wees vir beide spanne met die oog op die uitspeelronde.
Vir Barbarians se tweede en derde spanne het sake veel beter verloop teen Heidelberg en het hulle met 9-5 en 17-14 onderskeidelik koning gekraai.
Dié oorwinnings plaas hulle in die eerste posisie op die punteleer en 'n plek in die halfeindronde lyk na 'n uitgemaakte saak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’