RUGBYNUUS - Skouspelagtige rugby is opgedis toe Barbarians en Evergreens van Pacaltsdorp mekaar die afgelope Saterdag op 'n volgepakte D'Ameida Park-stadion in Mosselbaai die stryd aangesê het.
Die Babaas moes ongelukkig met 17-21 die knie buig teen die besoekers, maar die tuisspan kon ewe maklik aan die wenkant gewees het as hulle net hul opsies reg uitgevoer het.
Met nog 10 minute se spel oor voor die eindfluitjie, het die Barbarians drie agtereenvolgende strafskoppe nie benut om dit in punte om te skep nie. Dit was veral swak hantering en bottervingers, wat die tuisspan se ondergang bewerkstellig het.
Die Barbarians is egter nie in sak en as ná die nederlaag nie. Bemoedigende tekens veral in die vaste fasette, waar die twee agttalle met mening onder mekaar ingeklim het, goeie konstuktiewe spel in die vastelos en sprankelrugby veral in die eerste helfte deur die tuisspan se blitsige agterlyn, het die skare kort-kort op hulle voete gehad.
Evergreens se rotsvaste verdediging verdien egter ook 'n pluimpie.
As troosprys vir die Babaas is hulle woelige flank Shane Vaughn behalwe met sy twee drieë ook met die toekenning as Speler van die Wedstryd aangewys. Iets wat bitter min gebeur waar 'n verloorspan met dié toekenning van die veld sal afstap. Vaughn was egter die veld vol en as spelbreker is hy besig om al hoe meer op die voorgrond te tree.
Die Babaas se B-span ry steeds op die kruin van die golf en is nog onoorwonne. Dit was egter 'n naelskraapse affêre en die tuisspan was met 16-15 baas teen die besoekers. Die derde spanne se kragmeting was net so spanningsvol en ongelukkig moes die tuisspan met 7-8 die knie buig.
Môre kom die Barbarians in 'n wegwedstryd teen die gedugte span van Heidelberg te staan en 'n interessante stryd word in die vooruitsig gestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’