MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het meer as een rede om hierdie week trots te wees op rugbyspelers van internasionale formaat wat deur die dorp opgelewer is.
Nie net sal haker Schalk Brits môre in sy Boktrui teen die Engelse uitdraf nie, maar Dan Jooste, haker vir die Junior Springbokke, het saam met die span teruggekeer na Suid-Afrika na die pas afgelope o/20 Wêreldkampioenskap wat vroeër die week in Frankryk ten einde geloop het.
Verrassende wending
Asof die Bok-breier, Rassie Erasmus se besluit om Brits teen die Engelse te laat diens doen tydens die inkomende toer, nie alreeds genoeg verras het nie, het hy boonop vandeesweek tydens 'n nuuskonferensie in die Kaap gesê dat Brits moontlik in die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Japan kan speel. Brits se vertoning in môre se wedstryd sal moontlik deurslaggewend in hierdie besluit wees.
Ten spyte daarvan dat die 37-jarige Brits sy aftrede uit beroepsrugby beplan het, meen Erasmus dat hy die tipe speler is wat wel nog langer kan speel en dít, saam met sy diepte en ervaring, bevestig sy kandidaatskap vir die Wêreldbekertoernooi.
Hoe dit ookal sy, Mosselbaaiers is eweneens opgewonde oor hierdie wending. Die Mossel Bay Advertiser het sedert Brits se opname in die span ná die eerste toets met hom 'n onderhoud probeer voer, maar kon nie teen druktyd daarin slaag nie. Brits het egter wel te kenne gegee dat hy 'n onderhoud sou toestaan sodra die tyd dit toelaat.
Hy het skertsend tydens 'n aanvanklike telefoniese navraag van die Mossel Bay Advertiser gesê: "Ek is bly ek het so baie ondersteuning. Dis amazing - al is ek amper 45." Brits het in Desember 2015, na afloop van die vorige veelbewoë Wêreldbekertoernooi tydens 'n besoek aan sy tuisdorp met die Mossel Bay Advertiser oor dié ervaring gesels. Hy speel die afgelope nege jaar vir die Engelse rugbyklub, Saracens, waar hy as "Peter Pan" beskryf word.
So goed soos goud
Die Junior Springbokke het derde geëindig en 'n brons medalje in die pas afgelope o/20 Wêreldkampioenskap verower deur Nieu-Seeland met 40-30 te klop. Dan Jooste se pa, David het die Mossel Bay Advertiser deurlopend op hoogte gehou van sake, maar volgens hom was die jongmanne te druk besig om veel aan allerlei medianavrae aandag te gee.
"Die boys was die heel tyd besig om of te oefen of te herstel of te slaap. Nie my idee van 'n kuier op die Côte d'Azur nie, maar hulle ambisies is baie groter as wat myne ooit was," het Jooste vandeesweek tong in die kies aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die groep was ten tye van die kampioenskap in die dorpie Gruissan, gebaseer. Die kampioenskap word as sielkundig en fisiek uitdagend bestempel, aangesien die span slegs vier dae tussen wedstryde gehad het.
Oud-Mosselbaaier, Schalk Brits en wereldklas haker, wat more vir die Springbokke uitdraf saam met sy vrou, Colinda en seuns Hunter, Luke en Christian.
Die teleurstelling vir die span was groot toe hulle met een punt teen 'n gedugte Engelse span verloor het in die semi-finaal. Dan moes vir twee weke uitsit vanweë 'n besering. Hy het las gehad van 'n geskeurde ribkraakbeen. Sy besering is verbind vir spel, maar hy het kwaai pyn gehad, berig David. Volgens, David meen Dan dat die wen teen Nieu-Seeland, ewe goed voel.
"Dan sê dis amper so lekker as om goud te kry. In my boek beter."
Met Mosselbaai wat in die afgelope paar jaar, reeds twee keer die gesogte Dorp van die jaar-titel ingepalm het, wie weet, dalk kry dié kusdorp binnekort 'n nuwe benaming - die tuiste van die hakers.
Schalk Brits, oud-Mosselbaaier wat môre vir die Springbokke op Nuweland uitdraf saam met sy vrou, Colinda en seuns Hunter, Luke en Christian.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'