RUGBY NUUS - Nóg 'n groot vuurdoop wag op Riversdal Blues vir hul Super A-kragmeting Saterdag teen Groot-Brakrivier weg.
Drie taktiese veranderinge is aangebring aan die span wat verlede Saterdag met 31 - 12 teen George in Riversdal verloor het.
Twee is onder die voorspelers en een agterlangs en dit behoort interessant te wees om te sien of die Blues hul spel beter by die omstandighede kan aanpas.
Teen George, gelaai met spelers wat van hul provinsiale verpligtinge vir die SWD Arende vrygestel is, het die Blues gesukkel om vinnig aan te pas by die besoekers met hul swaar pak voorspelers wat voorlangs oordonder het.
Hoewel die eerste helfte redelik gelykop verloop het en die Blues sommer vroeg die voortou geneem het ná 'n blitsdrie, was dit na rustyd duidelik dat George se groot gewigsvoordeel net een te veel vir die tuisspan was.
Dankie vir die rugbytango. Teswill Taentaal (links), senter van die Blues, en sy teenstander soek albei na die bal.
George het taktiese baie goed by die omstandighede aangepas en hul afrigter, die oud-Springbok Anton Leonard, het die wedstrydsituasie goed opgesom en sy spelers opdrag gegee om na hul sterkpunte te speel.
"Ons was aan die buitekant en op die punte mededingend, maar voorlangs het dinge gelol," het die Blues se hoofafrigter, Rhyno Jacobs, aan Suid-Kaap Forum gesê.
"Ons het eenvoudig nie 'n teenvoeter gehad vir George se spelers wat blitsig van die grond af kon speel nie. Ons verdediging was aanvanklik goed en met ons aanvallende spel het ons soms groot bresse in hul verdediging geslaan. Maar in die tweede helfte het die krake begin wys en het die damwal uiteindelik gebars."
Jacobs sê hulle het die lesse ter harte geneem en hulle kan die res van die seisoen net verbeter.
Marico Leigh Radloff (stut) bars weg met die bal met 'n verdediger van George wat hom probeer voorkeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’