RUGBY NUUS - Die SWD Arende is oorgehaal om hul droewige vertoning in die SuperSport-uitdaagreeks met 'n reeks stewige vertonings in die opkomende Curriebeker se Eersteliga op te volg.
Hul veldtog skop Saterdag af in Kempton Park wanneer hulle teen die Valke te staan kom.
Dis 'n groot uitdaging wat voorlê, want die Valke het die grootse gros van sy kernspelers van verlede jaar behou.
Die Arende, daarenteen, moes noodgedwonge klubspelers inspan in die SuperSport-reeks en het erg gesukkel.
Hy is steeds in dieselfde bootjie en sal met hoofsaaklik klubspelers in dié onstuimige oseaan moet vaar.
Kophou en aanhou is die enigste uitweg vir die Suid-Kapenaars.
Vir die klubspelers wat ingespan gaan word, is dit 'n gulde geleentheid om op 'n hoër vlak mee te ding en hul sluimerende talente te openbaar.
Maar die erge druk en teleurstelling van nederlae, veral as die teenstanders hulle oordonder, kan die span negatief beïnvloed. Hulle het juis nie sulke bykomende aanslae nodig nie.
Daar rus 'n groot onus op Eddie Myners, hoofafrigter, en sy afrigtingspan, om die spelers sielkundig vir 'n moeilike veldtog in die Curriebeker voor te berei.
Maar dalk, net dalk, vlieg die Arende Saterdag hoër as die Valke.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'