Gallery
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier het in sy 25ste bestaansjaar vir 'n groot verrassing op hul tuisveld gesorg toe hulle Saterdagmiddag vir Barbarians van Mosselbaai tydens 'n Premierliga-rugbywedstryd met 29-23 geklop het. Die wenspan skuif met die oorwinning na die vierde posisie op die punteleer.
Hugh Minnies (regtervleuel) en Anwar Ohlson (flank) is vir die wenspan oor vir drieë. Henlin Botha (losskakel) slaag met twee doelskoppe, vier strafdoele en een skepdoel.
Shario Rosenkrantz (buitesenter), Curshwan Mono (linkervleuel) en Fernando Fourie (flank) het vir Barbarians gaan druk. Wahlon Anthony (heelagter) slaag met 'n doelskop en twee strafdoele.
Progress
Die Premierliga-rugbywedstryd tussen Progress en Crusaders Saterdagmiddag op die Parkdene-sportterrein het bykans 4 000 toeskouers gelok. Crusaders se bestuurspan verdien 'n pluimpie vir die professionele wyse waarop die wedstryd aangebied is en die dissipline wat gehandhaaf is. Die wedstryd was kliphard en in 'n goeie gees gespeel en het weer eens bewys dat klubrugby in die Suid-Kaap kerngesond is.
Progress het die kragmeting met 32-15 gewen nadat hul rustyd nog met 10-12 agter was. Die verdedigende kampioenspan, wat die seisoen 11 van hul 12 wedstryde gewen het, is die voorloper op die punteleer met 55 punte.
Crusaders het in die vierde minuut van die wedstryd eerste bloed geruik toe hul opwindende buitesenter, Curtley Scheepers, die groot skare op hul voete gehad het met 'n skitterende drie. Henry Wolhuter (losskakel) het met die doelskop geslaag en die tuisspan was met 7-0 voor. In die agtste minuut het Fizell Fredericks (plaasvervanger-vleuel) van Progress vir Gladwill Jafta vervang wat met 'n besering van die veld af is.
Curtley Scheepers, opwindende buitesenter van Crusaders, maak gereed om van die bal ontslae te raak met Shaun Raubenheimer van Progress wat hom aan sy trui trek. Scheepers het die groot skare op hul voete gehad met ‘n skitterende drie.
Die lenige Fredericks het onmiddellik nuwe lewe in die besoekers se agterlyn geblaas en is in die 10de minuut oor vir sy span se eerste drie. Die oud-Arend skrumskakel, Mzoxolo Dyantyi, wat 'n barshou gespeel het, is in die 30ste minuut oor vir Progress se tweede drie.
Progress se opwindende heelagter, Cameron Lentoor is in die 35ste minuut deur die skeidsregter, Shaun Stoffels met 'n geelkaart van die veld gestuur.
Damian Cedras (skrumskakel) is net voor rustyd oor vir Crusaders se tweede drie wat hul rustyd met 12-10 laat voorloop het.
Fizell, wat die skare op hul voete gehad het met sy spoed en voorgevoel vir die spel, is net na rustyd oor vir sy span se derde drie.
Die wenspan se kookwater-flank, Shaun Raubenheimer, het in die 60ste minuut onder die pale gaan druk.
Daarna het het Carlton-Dee Coeries (binnesenter) sy span se vyfde drie afgerond nadat die spoedvraat Clinton Wagman (regtervleuel) en Fredericks sterk gehardloop het. Laasgenoemde het ook met twee doelskoppe en 'n strafdoel geslaag.
Rico Afrika, linkervleuel van Crusaders, ontglip die duikslag van Progress se Clint Wagman.
Progress se pak voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê. Veral in die skrums en lynstane het hulle die oorhand gehad. Die wenspan se flank en kaptein, Solomon Manxodidi, wat aangewys is as speler van die wedstryd, het voorlangs die vonk verskaf. Hul slotpaar, Andre Barnardo en Justin Levendal, en stutte, Hendrik Kriek en Bredni Bestenbier, het ook die oog gevang. Agterlangs het Luzane Williams en Ethan Williams kookwater-rugby gespeel.
Vir Crusaders het Lwando Masceke (haker), Arden Wesso (slot), Leon Appels (loskopstut), Samdelekise Sam (agtsteman) en Bongani Ncqolombe (plaasvervanger-flank) voorlangs uitgeblink.
Danoven Hendricks (heelagter), die senterpaar, Curtley Scheepers en Elroy Havenga, Rico Afrika (linkervleuel) was agterlangs gevaarlik met die bal in die hand.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'