Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Groot-Brakrivier het Saterdagmiddag sy posisie op die punteleer van die SWD Premierliga verstewig toe hulle vir Silver Stars op die Rosemoor-sportterrein met 25-18 geklop het.
Die wenspan, wat vier pragdrieë gedruk het, skuif nou op na die sesde posisie op die punteleer met 25 punte.
Dit was 'n opwindende wedstryd wat by tye aanskoulike hardlooprugby opgedis het. Beide spanne het baie foute gemaak en die verdediging was by tye power.
Die wenspan se plaasvervangers, Grant Pokpass, Jean Pierre Kock, Ardin Meyer en Anwar Ohlson, het in die tweede helfte vir hulle die knoop deurgehaak. Byrol Stuurman (flank), wat goeie lynstaanbesit gewen het, is aangewys as speler van die wedstryd.
Silver Stars se kookwater-flank, Enrico Ruiters, was hul beste speler.
Diago Kiewiet (linkervleuel), Roshwin Abrahams (regtervleuel), Anvill van Wyk (binnesenter) en Cheslinn Gelderbloem (agtsteman) is vir die wenspan oor vir drieë. Henlin Botha (heelagter) klits 'n doelskop en strafdoel oor.
Vir Silver Stars is Shadrack Claassen (linkervleuel) en Jerovin Spandiel (slot) oor vir drieë. Neillin Scott (heelagter) slaag met 'n doelskop en twee strafdoele.
Friedle Muller, slot van Groot-Brakrivier, op die aanval met die bal met Silver Stars se Heinrich Leukes, agtsteman, wat gereed maak om hom voor te keer.
Barbarians
Barbarians het op die D'Almeida-sportterrein in Mosselbaai vir Blanco oortuigend met 41-21 geklop.
Curshwon Mono (linkervleuel, 2), Aden Jones (flank, 2), Justin Bhana (regtervleuel), Kerwin Taute (binnesenter) en Shano Rosenkrantz (buitesenter) is oor vir drieë vir die wenspan. Macdelin Saayman (losskakel) slaag met drie doelskoppe.
Evergreens
Evergreens het vir Bridgton op sy tuisveld in 'n klipharde wedstryd met 27-25 getroef. Riaan Tromp (flank), Emile Booysen (haker) en Anvor Prins (loskopstut) het vir die wenspan gaan druk. C-Than Moos (losskakel) slaag met drie doelskoppe en twee strafdoele.
Ganfried May (buitesenter, 2), Monde Stofile (agtsteman) en Rhaul Lewis (plaasvervanger) is oor vir drieë vir die tuisspan. Anver Venter (regtervleuel) slaag met 'n doelskop en Adrian Booysen (plaasvervanger) klits 'n strafdoel oor.
Ashwin Scott, senter van Silver Stars, gee 'n tikskoppie vorentoe.
Heidelberg
Die nuweling in die kompetisie, Heidelberg, het op sy tuisveld vir Maori's van George met 'n wegholoorwinning van 83-8 geklop.
Marquit September (3), Jason Liebenberg (3), Corbin Swartbooi (2), Anrich Manho (2), Lyndon Yumrie Hartnick, Simon du Toit en Martin Hartnick is oor vir drieë vir die wenspan. Swartbooi slaag met nege doelskoppe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'