MOSSELBAAI RUGBYNUUS - Die Garden Route-rugbyklub het Saterdag, 25 Augustus rede tot groot vreugde gehad toe hulle op Knysna met die louere weggestap het in die SWD Kusstreekliga toe hulle Greater Knysna 25 - 19 gewen het.
Die klub het vanjaar 'n besonder goeie jaar beleef, aldus die klubvoorsitter, Venolea Fortuin. "Die bestuur dank die Hemelse Vader wat hierdie jong manne se sukses moontlik gemaak het. Hulle het alles ingesit en verdien om die trofeewenners te wees."
Die afrigters mnre Fortuin en Marx het die spelers met groot passie afgerond om hulle volle potensiaal te bereik. "Ons is baie dankbaar teenoor die ouers van die spelers en hulle gesinne, die gemeenskap van Mosselbaai en plaaslike besighede soos die van Morné van der Heyde van HQ wat saam met sy werkers soveel steun aan die klub vir amper twee jaar getrou bied."
Die wen van die wedstryd bring opnuut nuwe uitdagings aangesien die klub in 2019 op 'n hoër vlak sal meeding. "Ons is baie trots op hulle.
Hierdie spelers het oor die jare, baie sosiale uitdagings oorkom en deur sport kon hul lewe onherroeplik verander."
Die bestuur het ook vir Rozain Hansen en Carlin Petersen uitgesonder vir hulle hulp en ondersteuning. "Ons het ook nie die twee vroue vergeet wat elke week, vrywillig die spelers se truie gewas het."
Die Garden Route-rugbyklub is vanjaar se Kusstreekligakampioene.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'