RUGBY NUUS - Barbarians het die gedugte Evergreens-rugbyspan van George, verlede Saterdag harde bene op D'Almeida Park laat kou. Babaas het hierdie kragmeting met 12-6 gewen.
Dit was een van hul beste vertonings tot dusver op hul tuisveld vir die 2022 rugbyseisoen.
Die besoekers, wie as gunstelinge op die veld gedraf het, se ontoelaatbare spel by die afbreekpunte het plaaslike ondersteuners warm onder die kraag gehad. Barbarians wat al hul punte in die eerste helfte aangeteken het, se rotsvaste verdediging het die besoekers vir die volle duur van die wedstryd weggehou van die doellyn. Babaas daarenteen het twee keer agter die doellyn gaan kuier, danksy goeie samespel tussen hul voor- en agterlynspelers.
Krediet aan die tuisspan se agtal wat Evergreens se rolmaalbewegings in kritieke oomblikke in die kiem gesmoor het. By die afbreekpunte het die "kannie dood" Leonard Stuurman (flank) en Shane Olckers (agsteman), by tye goeie omgekeerde balbesit aan hul agterlyn besorg.
Die wenspan se agterlyn met 'n nuwe skakelpaar, Macdelin Saayman (losskakel) en Warden Briesies (skrumskakel), was 'n goeie keuse. Saayman, wie die wedstryd goed gelees het, het Babaas gereeld met sy taktiese skoppies op die voorvoet geplaas.
Evergreens het in die laaste 10 minute gebiedsvoordeel binne die tuisspan se kwartgebied geniet en is by tye meters van die doellyn gestuit. Hulle kon egter nie deur Barbarians se verdediging breek nie en die tuisspan het as oorwinnaars uit die stryd getree. Natuurlik is daar nog heelwat ruimte vir verbetering, maar vir eers was dit een van hul beste vertonings vanjaar op D'Almeida Park.
Ander uitslae
- Babaas B 13 - Evergreens B 6;
- Babaas C 6 - Evergreens C 9.
Leonard Stuurman (flank) wat uitgeblink het teen Evergreens.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'