MOSSELBAAI NUUS - Ná vyf agtereenvolgende seges is die Barbarians steeds onoorwonne.
Dit volg ná hul tuisveldoorwinning van Saterdag teen die hoogaangeskrewe Evergreens. Babaas wen hierdie een naelskraap met 25 - 24.
Hierdie kragmeting het sprankelhardlooprugby deur beide spanne opgelewer, ten spyte van ’n sterk suidwestewind wat gewaai het.
Die besoekers, ook die huidige SWD-kampioene, het vanaf die afskop Babaas se verdediging agterlangs met hul aanvallende spel getoets. In die vaste fasette tussen die twee pakke voorspelers was dit egter ’n gelykopstryd.
Nes die Barbarians se vorige wedstryd moes hulle ook tot aan die einde swoeg om as oorwinnaars van die veld te stap. ’n Paar mis duikslae en hanteerfoute het hulle amper die wedstryd gekos.
Met hul beweeglike agttal het die besoekers Babaas by tye met goed beplande rolmaalbewegings hewig onder druk geplaas - en dán kos dit keer. In die eerste helfte het Evergreens twee keer en die Barbarians slegs een keer die doellyn oorgesteek. Skielik het die besoekers gelyk na die span wat Barbarians se segetog kan stuit.
Met die telling op 12 - 8 in Evergreens se guns het die manne gaan water drink.
Kort na die afskop van die tweede helfte word ’n voorspeler van die Barbarians koelkas toe gestuur vir ontoelaatbare spel. Teen alle verwagtinge gaan druk Babaas egter met 14 man ’n drie wat sommer ook verdoel word, en vir die eerste keer in die wedstryd loop hulle voor.
Hierdie drie is met nog een opgevolg, met goeie balhantering tussen die Barbarians se voor- en agterspelers. Hierna het die besoekers hulle aan ontoelaatbare spel skuldig gemaak, waarna ’n strafskop aan die tuisspan toegeken en in drie punte omskep is.
’n Telling van 25 - 12 het egter nie die Evergreens laat tou opgooi nie. Hulle het met durf en ywer teruggekom en twee keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier.
Met die telling op 25 - 24 in die Barbarians se guns en slegs ’n minuut voor die eindfluitjie was die Evergreens nog sterk op die aanval. Hulle is egter vir ontoelaatbare spel in ’n vaste skrum gestraf, en Babaas se oorwinning was veilig.
Eerskomende Saterdag pak Barbarians vir Heidelberg in ’n wegwedstryd, wat nie ’n maklike een gaan wees nie. Babaas se B- en C-span het onderskeidelik met 45 - 22 en 8 - 7 gewen en is ook nog onoorwonne.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’