MOSSELBAAI NUUS - Evergreens se vreugdevure het verlede Saterdagaand hoog gebrand nadat hulle die Barbarians hul eerste loesing vir die seisoen gegee het.
Die Barbarians het hierdie kragmeting voor ’n groot skare op Evergreens se tuisveld met 20 - 34 verloor.
Hulle kon óók eintlik as oorwinnaars van die veld gestap het. Maar as is verbrande hout...
Hanteerfoute en verkeerde opsies het die Barbarians hier gekniehalter.
In die eerste helfte het die Barbarians die tuisspan se swaarder agttal met hul huursoldate uit die Oos-Kaap onder hewige druk in die vaste skrums geplaas.
Met die eerste twee skrums vroeg in die eerste helfte het die tuisspan twee strafskoppe afgestaan, maar die besoekers kon dit ongelukkig nie in punte omskep nie.
In die 14de minuut het José Petersen (buitesenter) soos blits deur ’n gaping gegaan en met ’n pragdrie afgerond, wat Babaas eerste op die telbord geplaas het. ’n Stilte het oor Evergreens se ondersteuners gehang.
In die 18de minuut het die besoekers weer toegeslaan toe Petersen sy tweede drie gaan druk het, ná goeie samespel tussen voor- en agterspelers. Edgar Syfers (losskakel) het geslaag met die doelskop, en met die telling op 12 - 0 het dinge nog belowend vir die Barbarians gelyk.
Dit sou egter van korte duur wees. In die 24ste minuut het die tuisspan oorgegaan vir hul eerste vyfpunter ná swak verdediging deur die besoekers.
Diep in die eerste helfte, terwyl die besoekers op die aanval was, het Evergreens hul skuldig gemaak aan ongeoorloofde spel, waarna ’n gerondplukkery ontstaan het.
Nadat die gemoedere bedaar het, is Evergreens met ’n rooi en ’n geel kaart gestraf, terwyl Barbarians twee geel kaarte gekry het.
Kort voor rustyd het die tuisspan oorgegaan vir hul tweede drie, waarvan die doelskop suksesvol was. Met die telling op 12 elk het die spanne gaan water drink. Beide spanne se toeskouers was in afwagting vir ’n titaniese tweede helfte.
Net na die afskop in die tweede helfte word die besoekers se haker koelkas toe gestuur vir ’n gevaarlike duikslag, en twee minute later was dit die tuisspan wat eerste oor die doellyn gegaan het vir ’n vyfpunter.
Die Barbarians se lojale ondersteuners het bankvas agter hul span gestaan, ten spyte van die punteverskil wat groter geraak het.
Vir die besoekers was die skrif egter aan die muur toe ’n strafdrie aan Evergreens toegeken is vir die aftrek van hul rolmaalbeweging terwyl hulle op die aanval was. ’n Sleutelvoorspeler van die besoekers het ’n geel kaart gekry vir hierdie oortreding. Dit was sy tweede geel kaart, en dit is dus na ’n rooi kaart verander.
Met die telling op 24 - 15 in die guns van die tuisspan het ’n oorwinning gewink. Sowat 10 minute voor die eindfluitjie het Evergreens weer gaan druk en daarmee die wen verseker.
In die doodsnikke van die wedstryd het Dewanley van Rensburg (heelagter) oorgegaan vir Babaas se enigste drie van die tweede helfte.
Die Barbarians se B-span het in ’n opwindende wedstryd Evergreens met 29 - 3 geklop, terwyl die C-span met 19 - 33 vasgeval het.
Eerskomende Saterdag pak Barbarians Heidelberg op D’Almeidapark aan, wat groot belangstelling uitlok onder beide spanne se ondersteuners. Babaas, wat nou afgeskuif het na die vierde posisie op die punteleer, is nog steeds in die wedloop om die top agt te haal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’