MOSSELBAAI NUUS - In hul laaste kragmeting teen Silver Stars in George het Barbarians net-net met twee punte gewen, maar die afgelope Saterdag het sake heel anders geëindig.
Die Babaas het die krane by D’Almeidapark oopgedraai en Silver Stars met ’n allemintige 64 - 31 verslaan.
Hierdie wedstryd is op die B-veld gespeel weens instandhoudingswerk aan die A-veldpawiloen se dak. Dis op hierdie einste B-veld waar baie rugbylegendes vroeër jare groot hoogtes bereik het. Die huidige Barbarians het die nalatenskap van dié eertydse rugbylegendes behoorlik gestand gedoen - hul eindtelling is, in vergelyking met die laaste agt jaar, hul grootste nóg in die top agt.
Barbarians het vanaf die afskop die besoekers met goeie aanvallende spel tussen hul voor- en agterspelers onder druk geplaas. Hier moet die wenspan se agttal, wat die platvorm vir hierdie oorwinning geskep het, krediet kry.
Silver Stars se swaar pak voorspelers, met die deurwinterde Wayne Khan aan die spits, het tweede viool in die vastelos gespeel. In die vyfde minuut het die kanniedood Danny Abrahams van Babaas vir sy span se eerste vyfpunter oorgegaan ná goeie hanteerwerk tussen voor- en agterspelers. Dít was die begin van ’n lang dag vir die besoekers, want die tuisspan het voor rustyd nog vier keer agter die doellyn gaan kuier.
Stars se blitsige agterlyn het die Babaas agterlangs by tye benoud gehad en kon minstens sorg vir twee Stars-drieë voor rustyd - in daardie stadium was die telling 31 - 12.
Die spanne was slegs twee minute in die tweede helfte in toe Barbarians se glibberige skrumskakel, Lando Olckers, sy span se sesde drie druk. Silver Stars se agttal het stelselmatig hul stempel voorlangs probeer afdruk en kon by tye hul agterlyn op die voorvoet plaas - hulle is met drie drieë in dié helfte beloon.
Die terugvegpoging was egter tevergeefs, aangesien die Babaas nóg vier keer voor die eindfluitjie gaan druk het. Ná dié oorwinning en met hul beste seisoen in onlangse jare is hulle goed op dreef om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.
Barbarians se B- en C-span het onderskeidelik met 57 - 14 en 24 - 17 gewen. Hierdie naweek reis Barbarians na George waar hulle teen die Crusaders, ’n moeilike span op hul tuisveld, gaan kragte meet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’