RUGBY NUUS - Al het die SWD Arende Saterdag 11 Maart ses keer agter die doellyn gaan kuier teen hul teenstanders, die Valke se vyf keer, het hulle ongelukkig die wedstryd in die eerste divisie van die Curriebekerreeks verloor. Die wedstryd het in die Barnard-stadion in Kempton Park plaasgevind.
Die eindtelling was 44 - 38 ten gunste van die Valke. Teen rustyd was die Valke reeds 27 - 10 voor. In die tweede helfte het die Arende egter beter gespeel en die Valke gewys wat hulle kan doen.
Die Arende kan wel spog dat een van hul spelers, Sergio Stalmeester, speler van die wedstryd, was.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag 13 Maart gesê sy span het in die eerste helfte nie druk op die Valke geplaas nie.
Die Arende het ses drieë gedruk en die Valke vyf. Tog het hulle die wedstryd verloor.
"Dit is 'n bitter pil om te sluk," het Moolman gesê. Hy het egter benadruk die Arende soek nie verskonings nie.
Die Arende weet waar hul foute is en sal daaraan werk. Volgens Moolman staan die Arende strafskoppe af en dit gee hul teenstanders geleentheid om punte teen hulle aan te teken.
Die span se volgende wedstryd is teen die OP Olifante op 25 Maart in Riversdal.
Die wedstryd is tegelykertyd deel van die eerste divisie van die Curriebekerreeks en ook die Mzansi-beker.
"Die span het nou 'n paar dae af en dan begin die voorbereiding. Hopelik sal ons kan leer uit ons foute. Ons is 'n span wat weet ons kan drieë druk."
Die Arende het op 18 Februarie met 26 -43 teen die Boland Kavaliers in Oudtshoorn verloor. Op 24 Februarie het hulle teen die Luiperds in George gewen met 40 - 7.
Op 4 Maart, het hulle Grens Bulldogs in Oos-Londen met 50 - 12 afgeransel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'