MOSSELBAAI RUGBYNUUS - Voor eenwording in Suid-Afrikaanse rugby, was Mosselbaai gedurende die vorige era die mekka van ongekende rugbytalent uit die bruin gemeenskap.
Hul oorheersing in SWD-rugby het alreeds by Lilywhites, een van die eerste plaaslike rugbyklubs wat na afloop van die Eerste Wêreldoorloog gestig is, begin.
Springroses en Athletics, wat onderskeidelik in 1927 en in die vroeë 1930's gestig is, het voortgebou op Lilywhite se goeie nalatingskap deur die rugbytoneel te oorheers.
In 1963 het Springroses en Athletics saamgesmelt en Mosselbaai RVK is gestig. Dieselfde jaar breek Springroses se spelers en hul bestuurslede weg en vorm weer hul eie klub. Hierdie twee klubs saam met nog 'n klub, Young Blues wat in die vroeë 1970's bygekom het, was in hul era hoog deur rugbykenners aangeslaan.
In 1991 met die aanloop tot hierdie geskiedkundige gebeurtenis, was daar by sommige plaaslike rugbyklubs heelwat opgewondenheid onder die meerderheid bestuurslede en spelers.
Springroses, wat leiding geneem het met die eerste eenheidsgesprekke op provinsiale en nasionale vlak, was saam met Mosselbaai-klub die voorstanders van samesmelting. Springroses, onder aanvoering van Harry Levendal, die huidige uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, Clemment Strydom, Terry Olkers (jnr), Lenneth Thesner en Hannes James, het Mosselbaai-klub vir onderhandelinge genader.
Nellis du Plessis, Lance Petersen, David Smith, Rudolph Heunis, Clarence Prins en Allen Pickering het Mosselbaai-klub verteenwoordig.
Langeberg en Marlyne wat onderskeidelik in die tweede en derde liga gespeel het, was ook tydens die onderhandelinge teenwoordig.
Mosselbaai se rugbyklubs, behalwe Young Blues het uiteindelik besluit om saam te smelt en sodoende is 'n nuwe klub, naamlik Barbarians gestig.
Wyle Hannes James (middel), stigterslid van Barbarians en spanbestuurder in die vroeë 1990's. Saam met hom staan van die A-spanspelers voor die afskop van 'n wedstryd.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'