RUGBYNUUS - In 'n ideale wêreld sal die Wêreldbeker-eindstryd vanjaar tussen die rugbyspanne van Suid-Afrika en Ierland plaasvind, maar vir CJ Stander is daar te veel permutasies wat in ag geneem moet word. "Ek was die laaste ruk by verskeie geleenthede soos by manne-aande waar baie rugby gepraat is.
'n Eindstryd tussen die Bokke en die Iere sal die ideaal wees én dit is baie moontlik, maar maklik gaan dit nie wees nie," het hy gesê.
Die 33-jarige gebore Georgiet, wat aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal gematrikuleer het, is 'n veteraan van 51 toetse vir Ierland.
Hy het ook die Britse en Ierse Leeus in 2017 in Nieu-Seeland verteenwoordig waar hy in vyf wedstryde teen provinsiale spanne en die gelykop derde toets, teen die All Blacks in aksie was.
Voor hy in 2012 van die Blou Bulle na Ierland uitgewyk het om by Munster aan te sluit, het hy ook die SA Skolespan een keer en die Jong Bokkies (o.20's) twee jaar agtereenvolgens in 10 wedstryde verteenwoordig.
Stander het die rugbywêreld twee jaar gelede geskok toe hy op 'n relatiewe jong 31 sy algehele uittrede uit die spel aangekondig het. Was hy ooit spyt daaroor?
"Nie vir 'n oomblik nie. Ek het juis verlede week weer in 'n oumanne-wedstryd gespeel en weer eens besef dat dit die regte besluit op die regte oomblik was. Ek ag myself baie gelukkig dat ek ná dié besluit kan rondstap sonder enige noemenswaardige beserings. 'n Groot bonus," het Stander, wat deesdae as entrepeneur sy brood en botter verdien, gesê.
Reg en gereed
Oor die afgelope naweek se twee wedstryde waar die Springbokke op Twickenham met die All Blacks gemors het (35-7) terwyl die Iere in die suidweste van Frankryk in Bayonne gesukkel het om Wes-Samoa met 17-13 te tem, sê Stander. Die Bokke het gewys hulle is reg en gereed vir die toernooi wat voorlê. "Ierland se gesukkel teen Samoa het ook op die regte tyd vir hulle gekom. Die enigste negatief van dié wedstryd is die besering, wat die veteraanstut Cian Healy opgedoen het. Vir hom is dit 'n groot terugslag en sy ondervinding en leiersrol sal gemis word, maar die nodige strukture is in plek om dit ook te oorkom," het hy gesê.
Stander is dit ook eens daar sal moet gekyk word na die loting vir die Wêreldbeker-toernooi.
"Om twee van die voorste vier spanne op die wêreldranglys te verloor met die aanbreek van die kwarteindronde is nie regverdig nie en dit gaan die deur oopmaak vir van die ander spanne, wat laer op die ranglys is, om makliker tot die halfeindstryde te vorder. Wallis is vir my die span, wat hier die grootste verrassing kan lewer. Warren Gatland (afrigter) weet wat hy doen en hulle kan onder die radar tot in die semi's vorder," het hy gesê.
Die feit dat sy aangenome rugbyland in al nege sy vorige WB-toernooie nog nooit verder as die kwarteindronde kon vorder nie, is nie vir Stander 'n probleem nie. "Andy Farrell (die Iere se afrigter) het 'n nuwe dimensie na die span gebring en daar het baie veranderinge ten goede plaasgevind. Die ouens dink nou anders en ek is daarvan oortuig dat hulle vanjaar dié juk sal afgooi," het hy gesê.
Bokke versus Iere
Vir die Springbokke en die Iere om mekaar in die eindstryd te pak, sal beide van hulle twee groot struikelblokke moet oorkom. Beide sal Skotland se aanslag in die groepfase moet afweer.
Wie ookal die wedstryd tussen die Bokke en die Iere in dié fase sal wen - Stander reken die Iere gaan die oorhand hê in dié wedstryd - sal bepaal wie nommer een en twee in Groep B sal eindig as beide met Skotland ook kan afreken.
Frankryk en Nieu-Seeland behoort in Groep A die eerste twee posisies in te neem waarna die twee top-spanne van dié twee groepe mekaar oorkruis in die kwarteindstryd die stryd sal aansê.
Wat beteken Ierland én Suid-Afrika sal met beide die All Blacks en die Hane moet afreken in die kwarteindronde, ongeag teen wie gespeel word. So maklik gaan dit egter nie wees nie en die skoen kan maklik aan die ander voet wees. "As daar moet opgedaag word vir 'n wedstryd, sal dit in dié twee wedstryde in die kwarteindronde wees. Dit gaan moeilik wees.
Die All Blacks sal altyd 'n probleem wees en die Franse is 'n goeie span. Maar as jy die Wêreldbeker wil wen, moet jy gereed wees om enige uitdaging die hoof te bied," het hy gesê.
En dit gaan die Iere se grootste uitdaging wees. Suid-Afrika, Nieu-Seeland én Frankryk weet hoe lyk die waters aan die anderkant van 'n kwarteindstryd en al drie het al in die eindstryd tande gewys. Frankryk minder suksesvol as die Bokke en die All Blacks, wat elkeen met drie titels spog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’