MOSSELBAAI SPORTNUUS - Ten spyte van die gure weer was verlede naweek se Burgemeesterstoernooi op die Brandwag-stadion 'n klinkende sukses.
Op Saterdag, 15 Oktober het deurdringende reën vir 'n paar uitdagings gesorg, maar glad nie die spelers of toeskouers se entoesiasme gedemp nie.
Danksy die ondersteuning van die Burgemeestersfonds, Eden Sportraad, SWD Arende, Eden-netbalfederasie, EMS-nooddienste, asook verskeie besighede, kon die toernooi vanjaar aangebied word.
Brandwag se Happy Hearts het die rugbykragmeting gewen, met Powertown se Hungry Lions in die tweede plek en Groot-Brakrivier in die derde plek.
Groot-Brakrivier-netbalklub het die trofee huis toe geneem, met Brandwag tweede en Young Dreams van Mosselbaai in die derde plek.
Spelers van die toernooi is Brenwin Barends (Happy Hearts) en Busisa Qole (Groot-Brakrivier-netbal). Ander netbaltrofeë wat toegeken is, is Thabisa Cacela van KwaNonqaba-netbal (beste verdediger), Masipaya Mfume ook van KwaNonqaba-netbal (beste middelbaanspeler) en Mercy Lee Thomson van Shamrocks, Buisplaas (beste doel).
Happy Hearts het die trofee gewen vir die beste gees.
Die toernooi was die laaste groot spansport- en toeskouergeleentheid van die negende Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees wat aangebied is deur die Mosselbaai-munisipaliteit.
'n Speler van Brandwag se Happy Hearts hardloop met die bal na die doellyn.
Foto's: Adelle Beukes
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'