OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het verlede week 'n belangrike oorwinning in die Super A-liga in George behaal toe hulle die gedugte Progress met 18 - 14 gewen het.
Soos die telling aandui, was dit 'n naelbyt affêre met menige Bridgton-ondersteuners wat vergewe sou word as hulle gedink het dat hul geliefde maroen truie in die hek sou duik.
Soos die rugbygode dit wou hê, het die besoekers in die laaste 10 minute van spel die wa deur die drif getrek. Op 'n dag waar verdediging tot die uiterste beproef is, kon spanne slegs twee drieë druk.
Na die eerste helfte het Bridgton met slegs 5 - 0 voorgeloop. In die tweede helfte het die spel losser geraak met veral die voorspelers wat in hierdie tipe gebroke spel gedy het. Dit het die grondslag gelê vir twee van Bridgton se mees vlugvoetigste spelers, Craig Ellis en Willem Jaftha om elk 'n drie in te ryg.
Die agterspeler, Juandré Fourie, het veral 'n absolute oorlas van homself op die verdediging en aanval gemaak. Dit het by tye meer as drie spelers gekos om Fourie tot stilstand te bring. Fourie se stormlopies was manna uit die hemel vir die span omdat dit voordeellyn op ' n gereelde basis oorgesteek is.
Die agsteman, Anver Venter, was in die kol met twee strafskoppe terwyl die skrumskakel, Renaldo Botha, 'n doelskop oorgeklits het.
Ondanks Bridgton se 10de oorwinning uit 14 wedstryde vanjaar, lê die span steeds 'n rapsie buite die huidige topvier-spanne met 50 punte. Evergreens is bo-aan die punteleer met 55 punte gevolg deur Heidelberg met 53 punte.
In die derde plek is Crusaders met 32 punte met Groot-Brakrivier wat die vierde plek beklee met 51 punte. Dit moet ook in ag geneem word dat Crusaders twee wedstryde minder gespeel het en Evergreens het ook nog 'n wedstryd in die hand.
Eerskomende Saterdag se wedstryd teen Evergreens in Pacaltsdorp is dus van kardinale belang vir Bridgton as hulle teen die einde van die seisoen die uitklopwedstryde wil behaal.
Bridgton se B-span het met 26 - 23 teen Progress verloor terwyl hul C-span met 20 - 5 aan die wenkant was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’