GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Wanneer Groot-Brakrivier en die Barbarians mekaar die stryd aansê, is daar geen tekort aan vuurwerke nie - verlede Saterdag was geen uitsondering nie.
Die derby, wat hom in ’n volgepakte House of Pain in Groot-Brak afgespeel het, is met 26 - 17 deur die Brakkies gewen.
Die kragmeting is ook deur Mosselbaai se burgemeester, Dirk Kotzé, en ’n afvaardiging van die SWD-bestuur bygewoon en is voorafgegaan deur die sing van die volkslied.
Vanaf die afskop het die humeure tussen die twee spanne opgevlam, soos in ’n derby verwag word.
Voorlangs het die twee agttalle mekaar redelik in die vastelos opgekeil en hul lywe op die spel geplaas om oor die voordeellyn te kom. Brak was egter vroeg reeds eerste op die telbord toe hulle vir ’n drie oorgegaan het. Dít het gevolg ná swak verdediging deur die besoekers.
Die Barbarians kon nie in die eerste helfte die Brakkies se doellyn oorsteek nie - ten spyte van goeie aanvallende spel. Verkeerde besluitneming en hanteerfoute het hulle egter gekelder.
Die tuisspan het voor rustyd vir nog ’n vyfpunter oor die doellyn gegaan, en met die telling op 14 - 0 het dinge nie goed vir Babaas gelyk nie.
In die tweede helfte het die Barbarians met ’n goeie terugvegpoging gekom, maar hulle kon net nie die uitklophou plant nie. Hulle is wel met ’n verdoelde vyfpunter beloon.
Die Brakkies het egter Babaas se planne deurmekaargekrap en het ter antwoord vir hul derde vyfpunter oorgegaan.
Groot-Brak se Martley Bayman. Foto: Owen Sports Photography
Met die telling op 21 - 7 in die tuisspan se guns het ’n oorwinning gewink, maar nie voor die Babaas die gaping effens met nog ’n drie vernou het nie. ’n Verdoelde drie en ’n strafskop later was die telling op 21-17 en kon die wedstryd nog na enige kant toe swaai.
Hierna het die tuisspan weer toegeslaan en vir ’n vierde keer gaan druk, wat dan ook die wendrie was.
Die B-spanne het gelykop gespeel met 17 elk, terwyl Brak se C-span met 17 - 6 gewen het.
Die pad kan straks steiler raak vir die Barbarians met die aanloop tot die tweede ronde. Dus sal daar hard agter die skerms gewerk moet word, want Bridgton kan ’n moelike span wees. Hierdie kragmeting vind Saterdag op D’Almeidapark plaas, terwyl die Brakkies oor die berg gaan om die All Blacks op Oudtshoorn te pak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’