GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier het die afgelope naweek met die Mic Fin Barbarians afgereken in ’n wedstryd wat met ’n punteverskil van slegs een geëindig het.
Met die aanloop tot dié derby in die Brakkies se House of Pain was elke span se ondersteuners bankvas agter hulle.
Die wedstryd kon enige kant toe swaai, maar Brak het met 33 - 32 hierdie titaniese en aanskoulike kragmeting hulle s’n gemaak.
Hulle het vanaf die afskop, veral in die eerste helfte, Babaas onder groot druk geplaas. Groot-Brak is reeds in die eerste minuut oor Babaas se doellyn na die bal verkeerd vir die besoekers gespring het.
Hierna moes Babaas ook by een of twee geleenthede Brak se doellyn oorgesteek het, maar hulle kon nie afrond nie.
In die vyfde minuut kon Babaas egter met ’n strafskop slaag, ná ontoelaatbare spel by ’n losskrum.
Die Brakkies se agterlyn het benoude oomblikke aan die Barbarians besorg, en met goeie hardlooplyne het hulle oor die gebiedsvoordeellyn gekom. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat Brak weer sou gaan druk. Die tuisspan se goeie hanteerwerk tussen voor- en agterspelers het tot twee drieë voor rustyd gelei.
SIEN MEER FOTO'S HIER: Groot-Brak en Barbarians veg tot die einde
Met die rustydtelling op 19 - 6 in die tuisspan se guns het die gevaarligte vir die Barbarians begin flikker.
Die tweede helfte het sonder twyfel aan Barbaas behoort. Hulle het hier begin walgooi teen Brak se sterk agterlynspel. Stadig maar seker het Babaas hul spelpeil gelig en hul stempel begin afdruk.
Veral voorlangs het hul swaargewigte in die vastelos begin domineer en met hul kenmerkende dryfmaalbewegings Brak onder hewige druk geplaas.
Babaas is na ’n goeie rolmaalbeweging binne Brak se kwartgebied oor die doellyn. Die tuisspan het egter hierop geantwoord met nog vyf punte, wat hul voorsprong gerek het.
Met die telling op 26 - 11 in Brak se guns, slegs 10 minute voor die eindfluitjie, was ’n oorwinning so te sê in die sakkie.
Die Barbarians, veral die voorspelers, het egter moedig teruggeveg en nog drie maal agter die Brak-doellyn gaan kuier. Met die telling op 32 - 26 in Babaas se guns het die wen gewink, maar Brak het gesorg dat hulle die laaste sê het.
Groot-Brak het die uitklophou geplant toe hulle in die doodsnikke van die wedstryd ’n laaste drie druk en verdoel.
Die puntemakers vir Groot-Brak sluit in Sachin Toring (skrumskakel), Wendell Piedt (linkervleuel), Edwin Sass (binnesenter), Sha-Hoon Bayman (regtervleul) en Ashcaldo Prins (losskakel).
Vir Babaas was dit Nigel Prins (losskakel), Chernan Josephs (slot), Wynandré Human (slot/kaptein) en Barend Alexander (stut).
Groot Brak se B-span het Barbarians s’n met 22 - 6 geklop, terwyl die C-spanne gelykop gespeel het - 15 elk.
Komende Saterdag meet die Barbarians teen Bridgton op D’Almeidapark kragte. Groot-Brak vat vir Progress aan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’