TUINROETE RUGBY NUUS - Dalk het rugbyondersteuners in die Suid-Kaap te gou bly geraak oor die SWD Arende se belowende afskop tot die seisoen. Ná twee agtereenvolgende oorwinnings was die vreugdevure dalk effe voortydig, maar nie onverwags nie.
Dié vreugdevure is nou vinniger geblus as wat dit aangesteek is. Die Boland-Kavaliers het mos die nare gewoonte om 'n partytjie te bederf.
Dit het hulle verlede Saterdag op Malmesbury bewys toe hulle die Arende in die SuperSport-reeks met 37-12 in hul spore gestuit het. Praat van 'n warm ontvangs op dié kokende Bolandse dorp.
Die wenspan se telling kon baie hoër gewees het, maar sy skoppers het talle skoppe na die pale verbrou.
Die Boland het ses drieë ingeryg teenoor die twee van die Arende.
Met dié oorwinning het die Bolanders nou opgeskuif na die tweede plek op die puntelys met die Arende in die derde plek. Die Westelike Provinsie gee steeds die pas aan.
En dis die einste WP wat nou op die Arende wag.
Dié twee spanne pak mekaar Sondag om 15:00 op Oudtshoorn in die SuperSport-uitdaagreeks.
Die Arende sal oorgehaal wees om te vergoed vir die bloedneus wat die Boland hom gegee het, maar of hy oor genoeg skietgoed in sy arsenaal beskik om die WP te kelder, staan te besien. Dit sal een helse poging verg om die Streeptruie, selfs hier op eie bodem, te troef.
Die Arende sal opdraf met die wete dat nog 'n nederlaag sy kanse erg sal knou om in vanjaar se SuperSport-reeks hond haaraf te maak.
Die rugby skop Sondagoggend reeds af om 10:30 wanneer Oudtshoorn teen Willing Hearts van Prins Albert te staan kom. Om 13:00 kom die Vodacom Blue Bulls teen die Xerox Golden Lions te staan en in die hoofwedstryd om 15:00 pak die Arende die DHL Stormers. Verskeie Springbokspelers sal in aksie wees.
Die hekke van die Bridgton-stadion word reeds vroegoggend oopgesluit en toegang is gratis - alles deel van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) se planne om rugby na die gemeenskappe te neem.
Dis raadsaam om vroeg reeds op te daag om goeie plekke op die hoofpawiljoen te verseker.
Tyler Fisher
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'